Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Onluste ruk Irak: Dodetal styg

Die dodetal in Irak het Donderdag tot 46 opgeskiet in onluste in die land te spyte van ’n oproep vir kalmte deur premier Adel Abdul-Mahdi in ’n toespraak wat Donderdagaand regstreeks op televisie uitgesaai is.

Die betogings het Dinsdag in Bagdad begin en vinnig na ander stede versprei, veral in die suide van Irak. Die polisie het skerppuntammunisie, traangas en waterkanonne gebruik om oproeriges uiteen te jaag.

Die betogers is woedend vir die regering en die politieke klas wat volgens hulle weinig gedoen het om hul lewens te verbeter.

Die polisie sê dat hulle toenemend betogers met vuurwapens teëkom.

Volgens die polisie is twee van hul lede en twee betogers Donderdag in die stad Diwaniya, ongeveer 160 km suid van Bagdad, dood. In die nabygeleë Hilla is minstens een betoger volgens die polisie en mediese bronne doodgeslaan. Nog drie mense is in ’n distrik van Bagdad en elders in die hoofstad dood toe betogers voertuie aan die brand gesteek het.

’n Betoger hardloop Donderdag tussen brandende bande in Bagdad in Irak gedurende gewelddadige protesoptogte teen die regering.Foto: Reuters

Die betogings, waarin meer as 600 mense tot dusver beseer is, het begin met ontevredenheid oor die hoë werkloosheidsyfer en swak dienslewering, maar het gou uitgekring tot eise dat die regering vervang moet word.

Dit word bestempel as een van die ergste uitdagings wat die oorloggeteisterde land in jare ervaar.

Die betogings blyk onafhanklik te wees van enige politiese groepering en het die veiligheidsmagte in die land oënskynlik onkant betrap.

“Ons as Irakese het nie meer ’n vrees vir koeëls nie. Dit alles gaan op hul koppe ineenstort,” het ’n betoger in die hoofstad gesê.

Minstens 4 000 oproeriges het op die Tayaran-plein in Bagdad byeengekom en probeer om op die sentrale Tahrir-plein te betoog, maar is toe met ammunisie en traangas gestuit. Drie betogers is in die Zaafaraniya-distrik in Bagdad doodgeskiet waar die polisie skerppuntammunisie gebruik het. Onluste het ook in die noordweste van die Shula-distrik uitgebreek.

Volgens die polisie het betogers in die stad Rifai naby die suidelike stad Nassiriya op hulle geskiet waar sewe mense oornag dood is. Volgens die polisie is vyftig mense in Rifai gewond, waaronder vyf polisielede.

Vier mense is ook oornag in skermutselings in ’n ander suidelike stad, Amara, dood.

Amnestie Internasionaal het ’n beroep op Abdul-Mahdi gedoen om die land se veiligheidsmagte in toom te hou en die moorde te ondersoek.

Irak sukkel om te herstel sedert die Soenni-Moslem Islamitiese staatsgroep in 2017 verslaan is. Die infrastruktuur is weens die burgeroorlog, buitelandse besetting, twee Amerikaanse invalle, sanksies en oorlog teen buurlande vernietig. Irakese glo dat die regering nie daarin kon slaag om die land ná dekades se geweld te herbou nie. – Reuters

Meer oor:  Irak  |  Betoging  |  Dodetal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.