Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Ons grond: Zim-boere dink nuut oor grond

In die twee weke voor pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat die ANC wil voortgaan om Suid-Afrika se Grondwet te verander, het Pieter Steyn Zimbabwe deurkruis om met boere en sakelui te praat oor grondhervorming in dié land. Die kommersiële boere hier het hul denke oor grondbesit verander, skryf hy.

Voor die grondhervormings in Zimbabwe was Andrew Pascoe se plaas 1 725 ha groot, maar hy het nou net 224 ha oor, waarvan 60 ha bewerkbaar is. Hy bestuur self net 60 ha, met die res wat onder ’n gesamentlike-onderneming-program val. Op die plaas word grootliks met koring, mielies en sojabone geboer. Daar is ook ’n melkkudde van 170 koeie, nog 280 vir vleis en ’n varkboerdery met 1 200 diere. Foto’s: Getty Images

Jy hoef nie grond te besit om suksesvol en winsgewend te boer nie.

In die driftige gesprekke oor grond wat deesdae in Suid-Afrika gevoer word, word dié sentiment selde geopper.

Maar vir Ken Drummond, een van die suksesvolste boere in Zimbabwe, spreek dit vanself.

“My plesier en passie vir boer lê nie daarin om grond te besit nie,” sê hy.

“Ek is nie ’n grondspekulant nie. Die bevrediging kom uit wat ek uit die grond haal, my wins kom uit wat uit die grond kom. Nie om die grond te besit nie.”

Vertel ons die storie van jou grond. Stuur bydraes na onsgrond@rapport.co.za.

Scotch Masala, ’n sakeman en beesboer wat naby Bulawayo met Limousin-beeste boer, stem saam. “Jy moet grond produktief gebruik. Jy hoef nie die grond te besit nie.”

Wat duidelik geword het in die twee weke in Zimbabwe is dat die kommersiële boere hier begin het om anders te dink oor grondbesit. Hier, nes in Zambië en Mosambiek, word grond toenemend deur die staat besit en op ’n huurpagstelsel aan boere verhuur.

“Suid-Afrikaners – boere en die regering – moet mooi gaan kyk wat al sedert die 1960’s in lande soos Kenia en Zambië gebeur het. Daar was bloedige revolusies oor grond. Kyk wat in Zimbabwe gebeur het. Om vas te klou aan grond is kortsigtig,” sê Drummond.

Suid-Afrikaners moet by hulle kom leer, sê Basil Nyabadza, voorsitter van die landbou en landelike ontwikkelingsraad van Zimbabwe en ook ’n Zanu-PF-hoë. “Ons het al die pad gestap. Ons wil nie sien dat Suid-Afrika dieselfde foute as ons maak nie. Ons het nie kos gehad nie.

“As Suid-Afrika se landbousektor ’n knou kry, gaan dit almal in die streek (SAOG) raak.”

Talle van die boere wat hulle verset het, het ál hul grond verloor.

Hy het iewers langs die pad besef hy moet onderhandel om iets te behou, anders gaan hy alles verloor, vertel ’n boer in die Mashonaland-Wes-provinsie, wat toe wel ’n deel van sy grond kon behou.

“Die werklikheid, soos ek die situasie in Suid-Afrika sien, is dit onafwendbaar dat daar grond gevat gaan word. Ek stel voor om te onderhandel en iets, al is dit minder as die markprys, te kry vir jou grond. Onderhandel voorts met die regering om aan te hou boer op die plaas vir 99 jaar.”

Drummond boer in ’n vennootskap met die Zimbabwiese regering. Dit beteken die regering verhuur die grond aan hom vir ’n deel van die omset van sy oes. Enige kapitaalbeleggings (soos vir skure, spilpunte of pompe) trek hy van die huur af. “Die banke aanvaar ’n langtermynooreenkoms as sekuriteit vir finansiering.”

’n Boer wat in die laat 1990’s, toe die eerste grondbesettings begin het, ’n direkteur van ’n groot handelsbank in Zimbabwe was, sê die bank het saam met georganiseerde landbou gewerk om geld by wêreldmoondhede te kry om namens die regering plase by boere te koop. Wederstrewige boere het egter dié plan in die wiele gery omdat hulle nie van hul grond wou afstand doen nie. Almal weet wat toe gebeur het.

Basil Nyabadza.

Nyabadza sê dis ’n edel idee om grond vir almal te gee. Die uitdaging is om die grond só te verdeel dat daar steeds waarde uit die grond geput kan word om voedselsekerheid te verseker.

Masala voeg by dat boere in Suid-Afrika wat enorme lappe grond besit, moet gaan dink oor hoeveel hulle werklik nodig het om produktief te boer. “Daar sal streek vir streek na plase gekyk moet word. As jy 30 000 ha besit, maar jy gebruik net 1 000 ha of het net 1 000 ha nodig om produktief te boer, staan die res af. Grond kan nie braak lê in ’n streek en vasteland waar voedselsekerheid ’n kwessie is nie.”

Drummond stem saam. “Daar moet streek vir streek gekyk word na plase en grond wat nie ten volle benut word nie. As dit destyds só gedoen is in Zimbabwe, het ons waarskynlik ’n ander uitkoms gehad.”

Die howe is tydmors, waarsku elkeen van die Zimbabwiërs met wie ons gepraat het. Howe vertraag hoogstens die proses.

“Onthou, die regering kan die wette ook verander soos hy wil,” waarsku een van die boere.

Volgens Masala word wette gemaak om bepaalde belange te bevorder – of dit koloniale wette, apartheidswette of die dienende regering se wette is.

“Deur uitgerekte hofgedinge verwoes jy die toekoms van jou klein- en agterkleinkinders.”

Masala, Drummond en Nyabadza hou FW de Klerk en Nelson Mandela en die voor-1994-onderhandelinge voor as die pad wat gestap moet word in Suid-Afrika.

“ ’n Hofstryd sou die land nêrens bring nie. Albei (De Klerk en Mandela) het van hul troontjies afgeklim en met mekaar gepraat, onderhandel. Dis wat moet gebeur. Praat. Nie ’n geveg in howe nie. Dit het nog nêrens anders gewerk noord van Suid-Afrika nie.”

Masala waarsku dat sakelui en boere nie moet toelaat dat politici die proses bestuur nie. Drummond sê dis nie net die regerende party wat wantrou moet word nie, ook opposisiepartye wil net munt slaan uit die grondkwessie.

’n Jong boer naby Bulawayo waarsku dat politici verwagtinge by die massas skep met retoriek.

“Moenie wilde uitsprake as retoriek afmaak nie. Ons het dit gedoen. Die werklikheid is dat die retoriek verwagtinge skep – verwagtinge waaraan voldoen moet word en moeilik bestuur word.”

’n Megaboer in Zambië moedig Suid-Afrikaanse boere aan om te verenig. In Zambië is daar een verteenwoordigende liggaam vir boere. Alle boere – kommersieel, kleinboere en bestaansboere – behoort aan een liggaam en praat uit een mond. Hy boer ook op staatsgrond met ’n 99-jaar-huurpag-kontrak.

* Hierdie artikel is deel van die projek Ons Grond, ’n vennootskap tussen Rapport, City Press, Landbouweekblad en Code for Africa. Die doel is om stories oor grond te vertel en om harde feite oor grond in te samel.

* Steyn is ’n joernalis en inhoudsredakteur van die kykNET-aktualiteitsprogram Prontuit. Die episodes oor Zimbabwe en Zambië word Maandagaand 13 en 27 Augustus om 22:00 uitgesaai.

Meer oor:  Zimababwe  |  Grondbeleid  |  Grondonteiening  |  Grondbesit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.