Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Oordeelsdag-horlosie: einde al nader
Die simboliese Oordeelsdaghorlosie is Donderdag tot 100 sekondes voor middernag (wat staan vir die uitwissing van die planeet) geskuif. Regs van die horlosie staan Mary Robinson, oudpresident van Ierland en leier van The Elders en Ban Ki-moon, oudsekretaris-generaal van die Verenigde Nasies.Foto: BAS

Die simboliese Oordeelsdag-horlosie wat aandui hoe ver die wêreld van totale uitwissing is, staan nou op net 100 sekondes voor middernag (die einde).

Die wysers op die horlosie is vanjaar met 20 sekondes aangeskuif weens die dreigement van ’n kernoorlog, klimaatsverandering en vals berigte op die internet, het die Bulletin of the Atomic Scientists (BAS) Donderdag gesê.

Die horlosie is nou die naaste aan middernag sedert dit in 1947 begin tik het. Die atoomwetenskaplikes het toe die idee gekry om die Oordeelsdaghorlosie in te span om die mensdom teen die gevare van ’n kernoorlog te waarsku.

Die horlosie was verlede jaar nog twee minute voor middernag, net soos in 2018.

Rachel Bronson, president van die BAS, sê vir die eerste keer in die Oordeelsdaghorlosie se 73 jaar word “hoe naby die wêreld aan ’n katastrofe is aangegee in sekondes – nie ure of selfs minute nie”.

Die besluit is deur die BAS se wetenskap- en veiligheidsraad geneem. 13 Nobel-pryswenners sit op dié raad.

Vir die eerste keer is die raad bygestaan deur die wêreld se ringkoppe bekend as The Elders, ’n groep internasionale leiers en oudstaatshoofde wat in 2007 deur oudpres. Nelson Mandela in die lewe geroep is.

“Ons moet saam optree en saam werk,” sê Ban Ki-moon, voormalige sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies (VN).

“ ’n Enkele land of mens kan dit nie doen nie. Almal moet inspring en help.”

Jerry Brown, voormalige goewerneur van die Amerikaanse deelstaat Kalifornië en voorsitter van BAS, sê die kanse op ’n kernflater word verhoog deur gevaarlike mededinging en vyandighede tussen supermagte.

“Klimaatsverandering vererger net die situasie. As daar enigsins ’n tyd is om wakker te skrik, is dit nou.”

Die astrofisikus Robert Rosner sê dit is slegte nuus dat die wêreld so naby aan middernag is.

“Die verlede het ons geleer dat ons selfs in die slegste tye van die Koue Oorlog kon saamstaan. Dit is hoog tyd dat ons dit weer doen.”

Die BAS het ook teen ’n nuwe bedreiging gewaarsku, veral voor die presidentsverkiesings later vanjaar in Amerika. Hulle noem dit “regeringsgedrewe kuberondersteunde waninligtingsveldtogte om wantroue in instellings en onder lande te saai”.

“Leuens, oordrywing en waninterpretasies is ’n probleem wat wetenskaplike bewyse tot snert kan verpulp,” sê Robert Latiff, nog ’n raadslid.

“Prulvideo’s dreig om die waarheid te ondermyn.” BBC; news.com.au; Bulletin of the Atomic Scientists


Meer oor:  Jerry Brown  |  Oordeelsdag-Horlosie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.