Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Opposisie gee Erdogan ’n taai klap

Turkye se opposisie het pres. Tayyip Erdogan ’n gevoelige slag toegedien toe hulle die herverkiesing van die burgemeester in Istanbul gewen en die beheer van die land se grootste stad oorgeneem het.

Dit het Erdogan se aura van onoorwinlikheid aan skerwe laat spat en die boodskap oorgedra dat sekere kiesers ontevrede is met sy toenemende magsbeheptheid.

Ekrem Imamoglu van die sekulêre Republikeinse Volksparty het 54,21% van die stemme op hom verenig. Die wenmarge is veel groter as in die verkiesing drie maande gelede, het die land se verkiesingsraad gister gesê.

Die vorige verkiesing is ongeldig verklaar ná bewerings van wydverspreide ongerymdhede deur Erdogan se AK-party met sy Islamitiese wortels.

Ekrem Imamoglu, burgemeesterskandidaat in Instanbul, op die vooraand van sy oorwinning by die stembus. Foto: Reuters

Die Weste het die besluit om weer te stem gekritiseer en het Erdogan se teenstanders rooi laat sien oor die “bedreiging vir Turkye se demokrasie”.

Tienduisende ondersteuners van Imamoglu het Sondag en Maandag in die vroeë oggendure die voormalige sakeman se oorwinning oor Erdogan se kandidaat met byna 800 000 stemme op straat gevier.

“In dié stad het julle ’n gevestigde demokrasie. Dankie, Istanbul,” het Imamoglu aan sy ondersteuners gesê. Hulle het harttekens met hul hande gemaak.

“Ons het gekom om almal te omarm. Ons sal demokrasie in dié stad bou; ons sal geregtigheid bou. Ek belowe ons sal die toekoms in dié pragtige stad bou,” het Imamoglu gesê.

Erdogan het hom gelukgewens met sy oorwinning en sy teenstander, Binali Yildirim van die regerende AKP, het hom sterkte toegewens skaars twee uur nadat die stembusse gesluit het.

Erdogan is sedert 2003 aan die bewind in Turkye, eers as premier en daarna as president. Hy het die mees dominante politikus in die land geword sedert Mustafa Kemal Atatürk byna ’n eeu gelede.

Die AKP het sterk steun onder gelowige en konserwatiewe Turke.

15 jaar van konstruksiegedrewe ekonomiese groei het Erdogan gehelp om meer as ’n dosyn nasionale en munisipale verkiesings te wen. Maar die onlangse ekonomiese krisis en resessie het sy steun begin wegkalwe en sommige kiesers is verontrus deur sy toenemende ystergreep op die regering.

Die waarde van die Turkse lire het skerp gedaal ná die aankondiging dat die eerste verkiesing in Istanbul ongeldig verklaar is. Die lire het vanjaar al byna 8% van sy waarde teenoor die dollar verloor.

Imamoglu het selfs steun gekry in die konserwatiewe woonbuurte wat vroeër as AKP-vestings beskou is. Hy het daarmee die 25-jarige Islamitiese beheer van Turkye se grootste stad beëindig.

“Die herverkiesing het ’n diktatuur beëindig,” sê Gulcan Demirkaya, ’n 48-jarige huisvrou van Istanbul se AKP-gesinde Kagithane-distrik.

“As dit God behaag, sal ek hom (Imamoglu) oor vyf jaar as die president sien. Die heerskappy van een man moet end kry.”

Die verkiesingsuitslag sal waarskynlik ’n nuwe hoofstuk in Turkse politiek inlui, aangesien die drie grootste stede in die land nou deur die opposisie beheer word.

“Die marge waarmee die verkiesing gewen is, is ’n verontrustende teken vir die AKP,” reken Sinan Ulgen, ’n ouddiplomaat en besoekende professor aan Carnegie Europe in Brussel.

Ontleders voorspel dat die nederlaag tot ’n kabinetskommeling en moontlik aanpassings aan buitelandse beleid sal lei. – Reuters

Meer oor:  Tayyip Erdogan  |  Turkye  |  Verkiesing  |  Burgemeester
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.