Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Orkaan Sally: 4 maande se reën in 4 uur

Die orkaan Sally het bome ontwortel, strate oorstroom en honderdduisende huise en ondernemings sonder elektrisiteit gelaat toe dit Woensdag die kus naby die stad Gulf Shores in Alabama getref het.

’n Motorfiets en motors is onder water ná oorstromings in Pensacola, Florida, weens die orkaan Sally. Foto: AP

Volgens die Amerikaanse nasionale orkaansentrum (NHC) het Sally historiese en katastrofiese oorstromings aan die kus van Alabama en Florida veroorsaak.

Sally het die kus as ’n kategorie 2-storm getref, maar is die middag afgegradeer tot ’n tropiese storm nadat die maksimum volgehoue windspoed tot 113 km/h gedaal het.

Toe die storm Gulf Shores tref, het Sally winde van 169 km/h gehad. Al langs die kus is piere uitmekaar geruk deur die stormsterkwinde.

Een persoon is vermoedelik weens die storm dood.

Trent Johnson, ’n polisie-luitenant in Orange Beach, Alabama, sê ’n lyk het by die see uitgespoel en hy glo dit is orkaan-verwant. Hulle het egter nog geen definitiewe bewyse daarvan nie.

’n Boot sink nadat dit deur die storm beskadig is. Foto: Reuters

Volgens die NHC is sommige dele van die Golfkus oorstroom ná meer as 457 mm reën in die voorafgaande 24 uur. Hulle verwag meer reën namate die stormwinde verder verswak. Sommige geïsoleerde gebiede kan tot 889 mm reën kry voordat Sally klaar is, voorspel die NHC.

In die kusgemeenskap Pensacola in Florida was oorstromings so erg dat die water 1,5 m diep was. Volgens Ginny Cranor, brandweerhoof in Pensacola, het die stad vier maande se reën in vier uur gekry, berig CNN.

Talle mense word nou uit gebiede gered wat oorstroom het. David Morgan, sheriff van die Escambia-distrik, het gewaarsku dat duisende mense nog verwyder gaan word.

Meer as 500 000 huise en ondernemings oor die gebied heen was sonder krag toe die storm eikebome ontwortel en kragdrade van pale afgeruk het.

In Pensacola het die wind 77 km/h gehaal. ’n Ooggetuie sê daar was ook haelstorms in die stad en die NHC het gewaarsku oor moontlike tornado’s.

Inwoners speel in ’n oorstroomde parkeergebied by Navarre-strand in Pensacola. Foto: AP

Die krag na sowat 570 000 huise en ondernemings in Alabama en Florida moes ook herstel word, volgens plaaslike nutsdienste.

Verskeie inwoners langs die Alabama- en Florida-kus het gesê die skade deur die stadig bewegende storm het hulle onkant gevang.

Ron DeSantis, goewerneur van Florida, het op ’n nuuskonferensie gesê ’n groot gedeelte van die Pensacola Bay-brug is weg weens die storm.

Kay Ivey, goewerneur van Alabama, het aan inwoners gesê om nie uit te gaan om die omvang van die skade te bepaal nie, tensy dit nodig is. Sy het inwoners versoek om weg te bly van lewendige kragdrade en bome wat omgeval het.

Sally was die 18de storm in die Atlantiese Oseaan wat ’n naam gekry het en die agtste storm van tropiesestorm- of orkaansterkte wat Amerika vanjaar getref het. Daar is tans drie ander storms in die Atlantiese Oseaan, wat een van die mees aktiewe Atlantiese orkaanseisoene op rekord is.

“Ons het nog net een naam oor,” het Jim Foerster, hoofweerkundige van DTN, ’n verskaffer van energie-, landbou- en weerdata, gesê met verwysing na die prosedure hoe storms name kry.

Foerster het gesê alfabetiese letters raak min om die storms name te gee.

“Dit gaan binnekort hier gebeur. Wilfred, en dan is ons in die Griekse alfabet.” – Reuters

Meer oor:  Amerika  |  Reënval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.