Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Oudste papirus werp lig op vroeë Christene
Die laaste reël van die papirus bevat ’n deel van die Christelike groetvorm: “Ek bid jou voorspoed in die Here toe.” (“I pray that you fare well in the Lord.”) Foto: Basel-Universiteit

’n Brief wat van so vroeg as 230 n.C. dateer, is ná dese die oudste geskrif ter wêreld wat lig werp op die vroeë Christene se daaglikse bestaan.

Dié brief, wat in die sogenaamde Basel-papirusversameling vervat is, bied nuwe insigte in die wêreld van Christene in die ou Romeinse Ryk.

Die vroegste Christene in die Romeinse Ryk word gewoonlik as eksentrieke mense voorgestel wat hulle aan die wêreld onttrek het en wyd en syd vir hul geloof vervolg is.

Dié brief op papirus is die oudste wat tot nog toe opgespoor is en werp lig op die daaglikse gebeure in die lewe van die vroeë Christene in Egipte. Foto: Basel-Universiteit

Die Basel-papirus, brief P.Bas. 2.43, vertel egter ’n ander storie. Dié brief bevat aanduidings dat Christene in die vroeë derde eeu buite die stede in die Egiptiese agterland gewoon het, waar hulle leierskapsposisies beklee het en ingepas het by hul heidense omgewing.

Prof. Sabine Huebner, professor in antieke geskiedenis aan die Basel-Universiteit, het met behulp van prosopografiese navorsing (biografiese sketse) vasgestel dat dié papirus tot so vroeg as die 230’s v.C. dateer. Dit maak die brief minstens 40 jaar ouer as enige ander Christelike dokumentêre geskrifte ter wêreld.

Die Christelike gesin in die brief

Ene Arrianus skryf aan sy broer Paulus oor daaglikse familiesake en vra dan vir die beste vis as ’n aandenking.

Die brief sluit af met ’n verkorte seëngroet, “In die Here”, wat kom van die Christelike groetvorm: “Ek bid jou voorspoed in die Here toe.” (“I pray that you fare well in the Lord.”)

Volgens Huebner is dit daarom duidelik dat die skrywer ’n gelowige was.

“Dit is ’n eksklusiewe Christelike formule in Nuwe Testamentiese manuskripte waarmee ons bekend is.”

Volgens Huebner is die broer se naam ook tekenend van die Christelike geloof.

“Paulus was ’n baie skaars naam in daardie tyd en ons kan aflei dat die ouers wat in die brief genoem word, Christene was en hul seun na die apostel Paulus genoem het.”

Die brief maak ook belangrike besonderhede van die maatskaplike agtergrond van dié Christelike gesin bekend.

Arrianus en sy broer, Paulus, was jong, geleerde seuns van die plaaslike elite, grondeienaars en staatsamptenare.

Die papirus kom uit die dorpie Theadelphia in die middel van Egipte en behoort aan die bekende Heroninus-argief, die grootste papirusargief in die Romeinse Tyd.

*P.Bas. 2.43 is al langer as ’n eeu in die Basel-Universiteit in Switserland se besit. Die Basel-versameling bestaan uit 65 papirusdokumente in vyf verskillende tale. Die meeste bevat dokumentêre gegewens oor die lewenswyse van mense wat 2 000 jaar gelede geleef het. Die meeste papirusse is nog nooit gepubliseer nie – tot nou.

Meer oor:  Romeinse Ryk  |  Vroeë Christense  |  Papirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.