Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Berlyn-terreur: Paleis se veiligheid opgeskerp
Strate om Buckingham-paleis is vandag afgesper toe die wisseling van die wag plaasgevind het. Die Mall, die lang pad wat voor die paleis strek, is ook vir verkeer gesluit. Foto: Getty Images

Die sekuriteit om die Buckingham-paleis, die ampswoning van koningin Elizabeth en een van die gewildste toeristetrekpleisters in Londen, is opgeskerp ná die terreuraanval Maandagaand in Berlyn.

Omdat daar so baie toeriste en lede van die Britse leër teenwoordig is, veral ten tyde van die aflossing van die wag – wat drie tot vier keer per week geskied – het die metropolisie besluit om die paaie om die paleis op dié dae vir verkeer te sluit terwyl die geleentheid aan die gang is.

Van Woensdag af sal die paaie om die paleis vir twee tot drie uur gesluit wees terwyl die aflossing van die wag van 10:45 tot 12:30 (Britse tyd) plaasvind.

Daar is reeds geruime tyd planne vir die sluiting, maar dit tree nou onmiddellik in werking.

In Maandagaand se aanval in Berlyn, waarvoor Isis verantwoordelikheid aanvaar het, het ’n vragmotor in ’n Kersmark voor die geskiedkundige Keiser Wilhelm-gedenkkerk ingeploeg. 12 mense is in die voorval dood en 48 beseer.

Die ikoniese status van die Buckingham-paleis, die groot hoeveelheid toeriste en die teenwoordigheid van personeel van die Britse leër tydens die aflossing van die wag vereis die bykomende maatreëls, het die metropolisie in ’n verklaring gesê. Meer relings gaan ook langs die geslote paaie aangebring word.

Mense drom gereeld om die Buckingham-paleis saam om die bekende aflossing van die wag te sien. Bykomende veiligheidsmaatreëls is nou deur die Britte ingestel om toeriste en weermagpersoneel te beskerm. Foto: Getty Images

Dit is egter in die verklaring beklemtoon dat daar tans geen aanduiding is dat Buckingham-paleis wel ’n teiken is nie.

Brittanje is egter reeds op ’n gereedheidsgrondslag vir enige terreurdade. Lede van die spesiale magte patrolleer by Kersmarkte en enige moontlike teikens waar groot groepe mense en toeriste saamdrom.

Hoewel die koningin binnekort na haar herehuis in Sandringham, Norfolk, vertrek vir die Kerstyd, het sy Dinsdagmiddag nog ’n groot familie-ete in die paleis gehou.

Die paleis se sekuriteit was al vantevore in die kollig met mense wat al bo-oor die heining geklim het.

In Augustus vanjaar het ’n 22-jarige man in die vroeë oggendure oor die heining geklim. Hy is egter op veiligheidskameras opgemerk en gekeer voordat hy die paleis self kon bereik.

In nog ’n voorval in September 2013 het ’n man wel tot binne-in die paleis se staatsaal gekom voordat hy deur veiligheidspersoneel aangekeer is.

Skaars twee dae later is prins Andrew, terwyl hy in die tuin van die paleis gestap het, aangesien vir ’n oortreder en beveel om op die grond te gaan lê. Die veiligheidspersoneel aan diens het hom nie herken nie.

Die koningin is ook in Julie 1982 onaangenaam verras toe Michael Fagan die gordyne om haar bed weggetrek het. Daar is beweer sy het vir Fagan whisky aangebied, maar sy het net gevra: “Wat doen jy hier?” en toe verby hom gehardloop om hulp te soek.

Een van haar knegte het wel vir Fagan whisky aangebied. Fagan is ná die voorval vir sielkundige waarneming gestuur. – Bykomende inligting uit die Daily Mirror, Daily Express en Daily Mail.

Meer oor:  Londen  |  Berlyn  |  Veiligheid  |  Terreur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.