Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Palestyne verbreek alle bande met VSA, Israel

Die Palestyne het Saterdag alle bande met Amerika en Israel verbreek.

Pres. Mahmoud Abbas. Foto: Reuters

“Ek wil nie hê dit moet in die geskiedenis opgeteken staan dat ek Jerusalem verkoop het nie,” het pres. Mahmoud Abbas van die Palestyne Saterdag gesê oor die sogenaamde vredesplan vir die Midde-Ooste wat pres. Donald Trump van Amerika verlede week bekend gemaak het.

Trump se plan, wat aanvaar is deur Benjamin Netanyahu, die Israelse premier, sal ’n gedemilitariseerde Palestynse staat tot stand bring. Die staat sal grondgebied beslaan tussen die gebiede wat die Jode aan die Wes­oewer beset en sal byna heeltemal deur Israelse veiligheidsver-sperrings afgesny word.

“Ons het Is­rael in kennis gestel: Ons het geen bande meer met hulle of Amerika nie,” het Abbas Saterdag ná ’n noodvergadering oor die plan gesê.

Dit sluit volgens hom in samewerking op veiligheidsgebied.

Israel en die Palestyne polisieer die besette Wesoewer saam.

Die Palestyne werk ook met die Amerikaanse spioenasiediens, die CIA, saam om terrorisme in die streek te bekamp.

Weier om die plan te bepreek

Abbas het gesê hy het geweier om die plan met Trump te bespreek of om ’n eksemplaar van die dokument te ontvang om te bestudeer.

“Trump het gevra ons moet telefonies praat, maar ek het nee gesê. Hy het ook gesê hy wil vir my ’n brief stuur, maar ek het dit ook geweier.”

Hy wil nie toelaat dat Trump later kan sê hy het hom gekonsulteer nie.

Abbas het herhaal dat hy die plan “heeltemal verwerp”.

Ingevolge die plan sal Jerusalem as Israel se hoofstad erken word en sal die Joodse nedersettings aan die Wesoewer as wettig beskou word.

Die ministers van buitelandse sake van die Arabiese Bond het die naweek in Kaïro byeengekom om oor die plan te praat en het daarna gesê dit voldoen nie aan die minimum aspirasies van die Palestyne nie.

Ooste van Jerusalem

Die bond, wat die Amerikaanse bondgenote Saoedi-Arabië, Egipte en Jordanië insluit, sal nie met Amerika daaroor saamwerk nie, is besluit.

Hulle het die standpunt herhaal dat die Palestyne die reg op ’n staat het op die grondgebied wat in die 1967-oorlog deur Is­rael ingeneem is en sedertdien beset word.

Die hoofstad moet in die ooste van Jerusalem wees, lui hul verklaring.

Drie Midde-Oosterse lande het, ondanks hul historiese steun vir die Palestyne, oënskynlik om pragmatiese redes verkies om Amerika nie teen te staan nie.

Oman, Bahrein en die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) het die aankondiging van die vredesplan verlede Dinsdag in die Withuis bygewoon en hulle sedertdien nog nie daarteen uitgespreek nie.

Netanyahu het net ná dié geleentheid gesê hy gaan sy kabinet vandeesweek vra om ’n versoek goed te keur dat Israelse wette voortaan sal geld in gebiede wat deur Jode aan die Wes­oewer beset word.

Dit sal die eerste stap wees in die formele anneksasie van die grondgebied waarop die Joodse nedersettings staan, asook die Jordaanvallei, wat ook sedert 1967 deur Israelse magte beset word.

Trump het reeds vroeër Amerikaanse beleid laat verander wat die besetting van dié gebiede deur Israel as ’n misdaad ingevolge internasionale reg geklassifiseer het. – Reuters

Meer oor:  Mahmoud Abbas  |  Donald Trump  |  Vsa  |  Israel  |  Oorlog  |  Vrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.