Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Pandor praat met ampsgenoot oor krisis in Zimbabwe

Dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, was telefonies in gesprek met haar Zimbabwiese ampsgenoot oor die krisis in Suid-Afrika se noordelike buurland.

Dit is Woensdagmiddag deur Lunga Ngqengelele, Pandor se woordvoerder, bevestig.

Ngqengelele sê die Suid-Afrikaanse regering is bekommerd oor wat in Zimbabwe aan die gang is. Daarom het Pandor met Sibusiso Moyo, Zimbabwe se minister van buitelandse sake en ’n afgetrede weermaggeneraal, gepraat.

Sy het aan Moyo gesê Suid-Afrika sal Zimbabwe binne bestaande bilaterale ooreenkomste help waar hy kan.

“Suid-Afrika sal met Zimbabwe in gesprek bly,” het Ngqengelele gesê.

’n Zimbabwiese polisiebeampte wys mense verlede week weg uit die middestad van Harare voor ’n betoging teen die Zimbabwiese regering. Foto: Reuters

Betogings teen die Zimbabwiese regering – onder meer oor korrupsie – is die laaste paar dae opnuut gewelddadig deur dié land se polisie en die weermag onderdruk.

Tientalle mense is in hegtenis geneem en die optrede en menseregtevergrype teen die betogers is wyd veroordeel.

Zimbabwe bevind hom te midde van die koronaviruspandemie in ’n erge finansiële krisis.

Pres. Emmerson Mnangagwa het Dinsdag in ’n televisieboodskap die skuld vir die krisis in sy land op “donker magte” in en buite Zimbabwe gepak.

Die Suid-Afrikaanse regering word al jare lank skerp gekritiseer oor sy hantering van die probleme in Zimbabwe.

Pres. Cyril Ramaphosa en sy voorgangers oudpres. Thabo Mbeki en Jacob Zuma, word daarvan beskuldig dat hulle nie streng genoeg met die Zimbabwiese regering is nie.

Die party se ideologiese beheptheid met absolute mag laat nie toe dat opposisiepartye of kritici enige demokratiese beweegruimte kry nie.

Die ANC en Zanu-PF in Zimbabwe is bondgenote sedert albei lande se eertydse bevrydingstryde.

Darren Bergman, die DA se woordvoerder oor internasionale betrekkinge en samewerking, het Woensdagoggend gesê die stilswye van Ramaphosa as voorsitter van die Afrika-Unie (AU) oor die krisis is rede tot groot kommer.

As AU-voorsitter behoort hy ’n sterk boodskap aan die Zimbabwiese regering te stuur om hom in te hou en te weet die internasionale gemeenskap hou Zimbabwe dop.

“Pres. Ramaphosa het ’n groot geleentheid laat verbygaan om ware staatsmanskap te wys.”

Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap moet ook sý stem dikmaak oor wat in Zimbabwe aan die gang is, sê Bergman.

Emeritusprofessor Pieter Labuschagne, ’n politieke ontleder van Unisa, sê die werklikheid is dat Mnangagwa se Zanu-PF-regering steeds ideologies verstar en in dieselfde tru-rat geanker is as in die era van wyle oudpres. Robert Mugabe.

“Die party se ideologiese beheptheid met absolute mag laat nie toe dat opposisiepartye of kritici enige demokratiese beweegruimte kry nie.

Die Zimbabwiese staat is besig om geleidelik ineen te stort en Mnangagwa – soos Simon van ouds – is besig om die pilare om te stoot.

“Niks het verander nie. In werklikheid het die situasie eerder verder versleg en is dit besig om in te plof,” sê Labuschagne.

“Die Zimbabwiese staat is besig om geleidelik ineen te stort en Mnangagwa – soos Simon van ouds – is besig om die pilare om te stoot.”

Labuschagne sê die $3,5 miljard (Amerikaanse dollar) wat die Zimbabwiese regering sê hy aan wit boere gaan uitbetaal vir die grond wat die laaste 20 jaar van hulle weggeneem is, beteken nie Zanu-PF het sy “onderdrukkende houding” versag nie.

Dit is alles net deel van sy plan om geld by onder meer die Wêreldbank, die Europese Unie en die Verenigde Nasies se ontwikkelingsprogram te kry.

“Die politieke werklikheid is dat Zanu-PF en die ANC steeds bevrydingsbewegings is wat nooit werklik tot demokratiese politieke partye omgeskakel het nie.

“In bevrydingsbewegingstaal is kritiek teenoor mekaar in wese ideologiese bevrydingsbeweging-hoogverraad.”

Meer oor:  Naledi Pandor  |  Emmerson Mnangagwa  |  Zimbabwe  |  Krisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.