
’n Brand tydens die betoging in Parys teen polisiegeweld en ’n veiligheidswetsontwerp. Die wetgewing verbied die publikasie van ’n polisiebeampte se foto. Foto: Reuters
’n Betoging teen polisiegeweld in Parys het gewelddadig geraak toe tientalle mense lede van die onluste-polisie met projektiele bestook, winkelvensters uitgeslaan en motors en versperrings aan die brand gesteek het.
Die polisie het dié optrede met traanrook beantwoord.
Duisende mense het vreedsaam aan ’n optog deelgeneem in die Franse hoofstad toe groepies betogers – meestal in swart geklee en met hul gesigte bedek – met die polisie slaags geraak het. Sommige het hamers gebruik om plaveisel te breek.
Die betogers is gekant teen polisiegeweld asook pres. Emmanuel Macron se beoogde veiligheidswetgewing wat volgens hulle burgerlike vryheid aan bande sal lê.

Onlustepolisie in Parys is onder klippe gesteek deur “kwaadstokers” wat volgens die owerhede die betoging teen polisiegeweld geïnfiltreer het. Foto: Reuters
Volgens die polisie in Parys het sowat 500 kwaadstokers die betoging geïnfiltreer. Altesame 22 mense is in hegtenis geneem.
Sedert die regering ’n wetsontwerp oor veiligheid in die parlement ter tafel gelê het, het verskeie betogings in Frankryk gevolg. Die wetsontwerp maak voorsiening vir meer afloer-gereedskap en beperk die publisering van polisiebeamptes se foto’s in die media en op die internet.

Verskeie private voertuie het deurgeloop toe geweld uitbreek tydens ’n betoging in Parys, Frankryk. Foto: Reuters

’n Groepie omstanders kyk hoe ’n voertuig uitbrand ná ’n betoging teen polisiegeweld in Parys, Frankryk. Foto: Reuters
Die beoogde wetgewing is deel van Macron se poging om strenger beheer oor orde en reg te kry met die oog op die verkiesing in 2022. Sy regering meen ook die polisie behoort beter beskerm te word teen haatspraak op die internet.
Die wetsontwerp het egter tot sterk openbare teenkanting gelei. Beeldmateriaal van polisiebeamptes wat Michel Zecler, ’n swart musiekvervaardiger, aanrand, het die gemoedere verder opgejaag.
Die aanranding het aan die lig gekom weens kring-TV-beeldmateriaal en selfoon-videopnamens. Macron se party het onderneem dat hy die afdeling in die wetsontwerp oor die publikasie van polisiebeamptes se foto’s sal herskryf. – Reuters