Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Planne om Suid-Afrikaners van buiteland af te bring

Een bakkie noedels per dag.

Dit is wat ’n egpaar van Port Elizabeth nou met ete deel in ’n poging om finansieel te kan oorleef terwyl hulle in ’n Oos-Asiatiese land vasgekeer is.

Pierre Wilkinson en sy vrou, Yolanda, van Port Elizabeth is tans in Laos vasgekeer. Foto: Verskaf

Pierre Wilkinson (48) en sy vrou, Yolanda (51), het gespaar vir hul droomvakansie en oplaas in Maart na Laos vertrek. Die vakansie het egter gou in ’n nagmerrie ontaard toe die Covid-19-pandemie tot ’n staat van inperking gelei en die land se grense gesluit is.

Pogings om die land te verlaat, daaglikse kostes om te oorleef, asook Yolanda se gesondheid wat agteruitgaan, het hulle reeds duisende rande gekos.

Brendan Johnstone, ’n familievriend van Port Elizabeth, sê hulle het reeds meer as R500 000 se uitgawes gehad. Hul visums moet kort-kort hernu word en albei se kredietkaarte is op die limiet. Hulle is dus genoodsaak om by familie en vriende om hulp aan te klop.

“Hulle het albei so baie gewig verloor. Ek het hulle skaars op ’n foto herken. Hulle eet die minimum net om te oorleef, en natuurlik speel stres ook ’n rol.”

Omdat Johnstone die egpaar nie finansieel kan ondersteun soos hy graag sou wou nie, het hy Woensdag ’n geldinsamelingsveldtog aanlyn begin.

“Daar is baie mense wat nou geldelik sukkel. So ek kan net hoop dat mense geld kan skenk om te help dat hulle kan oorleef tot hulle kan terugkom.”

Johnstone sê hoewel geld ’n kwessie is, is Wilkinson, ’n polisiekaptein van die Swartkops-polisiekantoor, se grootste vrees dat sy vrou nie lewend na Suid-Afrika sal terugkeer nie.

Lauren Kroutz (20), ’n Engels-onderwyser van Uitenhage, is in Lima gestrand. Foto: Verskaf

Yolanda, wat aan ernstige depressie ly, het weens hul situasie reeds drie keer haar eie lewe probeer neem. Boonop het sy ook ’n onderliggende hartkwaal en veroorsaak die angstigheid dat haar gesondheid verder verswak.

’n Besoek aan ’n plaaslike gesondheidspraktisyn, waarvoor hulle R300 000 moes opdok om ’n verslag te bekom wat Yolanda se mediese toestand bevestig en moontlik ’n spesiale noodvlug kan bewerkstellig, was ook onsuksesvol.

Terwyl die egpaar hoopvol wag op die plaaslike ambassade se hulp, probeer hulle oorleef, het Johnstone gesê.

* Skenkings kan gedoen word by https://gogetfunding.com/help-stranded-south-african-family/

Vriende van vriende het vir ons ’n moontlikheid gebied van ’n privaat vliegtuig wat uit Kaapstad sal vertrek en met 31 passasiers kan terugkeer.

Intussen blyk daar hoop vir nóg ’n Suid-Afrikaner, wat in Peru gestrand is, te wees.

Lauren Kroutz (20), ’n Engels-onderwyser van Uitenhage in die Oos-Kaap, sukkel reeds drie maande om na Suid-Afrika terug te keer.

Benewens die rompslomp om toestemming by die plaaslike ambassade te kry om die land te verlaat, kon Kroutz ook nie ’n repatriasievlug bekostig nie.

Maar danksy die samewerking van haar alma mater, Uitenhage High School, en ondersteuners van die Run 4 Lauren-veldtog, het sy nou genoeg geld om van Lima na São Paulo en van daar na Johannesburg te vlieg.

Gary Hendricks, ’n onderwyser van die skool, wat die geldinsameling aangevoer het, sê teen Vrydag het die totaal ná net meer as twee weke op sowat R32 000 gestaan.

“Ons is so opgewonde oor die reaksie van die plaaslike gemeenskap, asook die mense wat van so ver as Pretoria en Kaapstad deel geraak het.”

Hy sê die onderwysers van die skool se leuse is, “ons leef vir ons kinders”. Dit maak nie saak of dié leerlinge reeds die skool verlaat het nie.

Lauren het Vrydag in ’n WhatsApp-boodskap aan Netwerk24 gesê sy is dankbaar vir elkeen se bydrae en sy sou graag elkeen persoonlik wou bedank as sy kon.

Tog meen sy daar lê steeds ’n paar struikelblokke voor, aangesien hul vlug vanaf Lima tot in São Paulo nie verseker is nie. Indien dié vlug van drie uur deur die mat val, sal sy ses dae per bus moet ry om by die stad uit te kom.

Hendricks sê hulle het reeds ’n plan B indien die vlug vanaf São Paulo nie realiseer nie, of as Kroutz dit sou mis.

“Vriende van vriende het vir ons ’n moontlikheid gebied van ’n privaat vliegtuig wat uit Kaapstad sal vertrek en met 31 passasiers kan terugkeer. So ons is hoopvol dat Lauren spoedige sal terugkeer.”

Intussen beplan haar ma, Vanessa, reeds die eerste paar aande se kos vir wanneer haar dogter terug is.

“Die eerste aand sal ons potjiekos maak, dan braai en vetkoeke daarna. Alles waarvoor sy lus is en nie daar kan geniet nie.”

Vanessa het ook haar dankbaarheid uitgespreek teenoor almal wat help om haar dogter by die huis te kry. “Ek was platsak nadat ek my dogter verlede jaar oorgestuur het. Met die kursus en ander uitgawes was alles omtrent so R100 000. Ek weet nie hoe sy sou kon terugkom sonder almal se hulp nie.”

Meer oor:  Repatriasie  |  Covid-19  |  Suid-Afrikaners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.