Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Polisie grawe op erf in ondersoek na Maddie McCann

Die Duitse polisie grawe ’n stuk grond aan die buitewyke van die stad Hannover in Duitsland op wat verband hou met hul ondersoek na die verdagte wat glo in 2007 by die verdwyning van Madeleine (Maddie) McCann betrokke was.

’n Masjiengraaf besig om ’n stuk grond naby die stad Hannover skoon te maak sodat die polisie die area met harke en grawe kan deursoek. Foto: AP

’n Klein masjiengraaf word ingespan om die erf skoon te maak en polisiebeamptes fynkam die area met harke en grawe, volgens beeldmateriaal wat in die Duitse media verskyn het.

The Guardian berig die polisie het nie gesê wat hulle presies hoop om te vind nie. Julia Meyer, ’n woordvoerder van die aanklaers van Braunschweig, het egter bevestig dat die soektog deel van die ondersoek na die driejarige Maddie se verdwyning in 2007 in Portugal is.

Die stuk grond is geleë in ’n landelike gebied tussen Hannover Ahlem en Seelze-Letter, en is sowat 65 km van Braunschweig, waar die hoofverdagte in die saak, Christian Brückner, laas gewoon het.

Volgens die koerant Hannoversche Allgemeine Zeitung het die soektog Maandag daar begin.

’n Inwoner van Hannover het gesê tot 100 polisiebeamptes was op die stuk grond doening, berig Daily Mail. Forensiese lede in wit pakke en met snuffelhonde was ook volgens berigte op die toneel.

Maddie se verdwyning uit haar slaapkamer in ’n gehuurde vakansiehuis in die Algarve-streek van Portugal het tot een van Europa se grootste internasionale ondersoeke gelei, berig Reuters.

Daar word ook beweer dat die Britse meisie dood is, maar die staatsaanklaers het tot dusver geweier om meer hieroor te sê.

Aanklaers het verlede maand aangekondig dat hulle telefoonverslae het wat Brückner met haar verdwyning op 3 Mei 2007 verbind, en dat hy die hoofverdagte in die saak is.

Die staatsaanklaer van Braunschweig het ook herhaaldelik gesê hulle het tasbare bewyse dat Brückner, wat ten tyde van Maddie se verdwyning in Algarve gewoon het, by haar verdwyning betrokke was. Sy naam word sedert 2013 as ’n moontlike verdagte genoem, maar ondersoekers sê hulle het nog nie voldoende bewyse om hom aan te kla nie.

Daar word ook beweer dat die Britse meisie dood is, maar die staatsaanklaers het tot dusver geweier om meer hieroor te sê.

Volgens die plaaslike media het die Portugese polisie en duikers vroeër die maand drie putte in die omgewing van Vila do Bispo in Algarve deursoek, maar niks gevind nie.

Brückner dien tans tronkstraf vir dwelmhandel in die stad Kiel uit. Hy het twee vorige veroordelings vir verkragting, diefstal en bedrog.

Meer oor:  Polisie  |  Christian Brückner  |  Maddie Mccann  |  Hannover  |  Duitsland  |  Braunschweig  |  Erf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.