Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Polisiehoof bedank ná swart Amerikaner doodgeskiet is
’n Betoger sit op ’n kragpaal tydens betogings nadat ’n polisie-offisier vir Rayshard Brooks in Atlanta, Amerika, doodgeskiet het.Foto: Reuters

Die polisiehoof van Atlanta in Amerika het bedank ná die noodlottige skietery op ’n swart Amerikaner wat voor ’n deurry-restaurant in sy motor aan die slaap geraak het.

Rayshard Brooks (27) is Vrydagaand in ’n struweling met die polisie doodgeskiet, het owerhede gesê.

Die burgemeester, Keisha Lance Bottoms, het gesê Erika Shields, polisiehoof, het haar bedanking Saterdag vrywillig ingedien.

Die polisie het Sondag aangekondig dat ’n polisieman afgedank en nog een na die administratiewe afdeling geskuif is nadat Brooks doodgeskiet is.

Dié gebeure het tot ’n nuwe vlaag van betogings gelei net toe dié oor die dood van George Floyd aan die hand van die Minneapolis-polisie begin rustig raak het.

Die afgedankte polisieman is geïdentifiseer as Garrett Rolfe, wat hom in Oktober 2013 by die polisie aangesluit het. Die ander is Devin Brosna, wat in September 2018 daar begin werk het, lui ’n verklaring deur die polisie se woordvoerder, sers. John Chafee.

Die GBI het gesê Brooks wou hom nie laat toets vir alkohol-inname nie en die polisie wou hom toe in hegtenis neem.

Die polisie het ook beeldmateriaal van ’n lyfkamera en ’n paneelbord-kamera van albei polisiemanne beskikbaar gestel.

Die polisie is Vrydagaand na die Wendy’s-restaurant uitgeroep ná ’n klagte dat Brooks in sy motor aan die slaap geraak het terwyl hy buite die restaurant in die ry gewag het, het die Georgia-buro vir ondersoek (GBI), wat ’n ondersoek na die skietery begin het, Saterdag gesê.

Die GBI het gesê Brooks wou hom nie laat toets vir alkohol-inname nie en die polisie wou hom toe in hegtenis neem.

’n Worsteling oor ’n skoktoestel het tussen Brooks en die polisiemanne gevolg.

Die beeldmateriaal wys ’n man wat vir twee wit polisiebeamptes weghardloop terwyl hy ’n hand na die offisier ’n paar treë agter hom oplig waarin hy ’n voorwerp vashou.

Die polisieman haal ’n wapen uit en skiet terwyl die man hardloop en dan in die parkeerterrein val.

Die kitskosrestaurant Wendy’s in Atlanta waar ’n swart man deur ’n polisiebeampte doodgeskiet is, is aan die brand gesteek.Foto: Getty Images

Die GBI het aanvanklik gesê Brooks, ’n pa van vier wat sy negejarige dogter se verjaardag vroeër die dag gevier het, is in die struweling geskiet.

Die direkteur van die GBI, Vic Reynolds, het gesê Brooks het ’n skoktoestel van een van die offisiere gegryp en dit het gelyk asof hy dit na die offisier mik terwyl hy weghardloop. Die offisier het drie skote geskiet.

Betogers het die Wendy’s-re­staurant waar Brooks geskiet is aan die brand gesteek en het die verkeer op ’n nabygeleë hoofweg versper. Die brand was teen 23:30 geblus, maar ’n video van plaaslike nuusbronne het gewys dit het teen 04:00 weer opgevlam.

Volgens die Atlanta-polisie is 36 mense sedert middernag Saterdag in hegtenis geneem.

Shields was sedert Desember 2016 die polisiehoof en het langer as 20 jaar vir die polisie in Atlanta gewerk. Sy sal nou in ’n ander rol aangewend word, het Bottoms gesê.

“Ek glo nie dit was geregverdigde gebruik van dodelike mag nie,” het Bottoms gesê.

“Vanweë haar begeerte dat Atlanta ’n model moet wees van hoe sinvolle hervorming oor die land heen moet lyk, het Shields aangebied om dadelik haar pos as polisiehoof te verlaat sodat die stad dringend vorentoe kan beweeg en vertroue wat so dringend nodig is in ons gemeenskappe herbou kan word,” het die burgemeester in ’n verklaring gesê.

Die tussentydse regstellingshoof, Rodney Bryant, sal intussen as polisiehoof optree. – BBC, Al Jazeera, CBC News

Meer oor:  Rayshard Brooks  |  Atlanta  |  Polisiegeweld  |  Rassehaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.