Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Prins Andrew 'wil glo help in Epstein-ondersoek'

Hoekom is prins Andrew nog nooit deur die Britse metropolisie of die Amerikaanse speurdiens (FBI) ondervra oor sy vriendskap met die veroordeelde miljoenêrpedofiel Jeffrey Epstein nie?

Dít is die vraag nadat daar Dinsdag in die Daily Express berig is die prins is gewillig om ’n ooggetuieverklaring af te lê of vrae in Engeland of Amerika te beantwoord.

Richard Palmer, koninklike korrespondent vir die Daily Express, sê hy het by ’n betroubare bron in Buckinghampaleis verneem die prins is gewillig om met die polisie-ondersoek teen Epstein te help.

Epstein was verhoorafwagtend op aanklagte van sekshandel en seksuele mishandeling toe hy homself op 10 Augustus in sy tronksel gehang het. Hy het ook twee dae voor sy dood sy testament geskryf. 

Talle jong meisies beweer hulle is as seksslawe “opgelei” om seks te hê met Epstein en van sy ander ryk en magtige vriende. Een só ’n meisie, Virginia Roberts, beweer sy het prins Andrew in 2001 op drie geleenthede – in Londen, New York en Epstein se eiland in die Maagde-eilande – ontmoet.

Prins Andrew . . . hy is glo bereid om sy samewerking met die owerhede te gee in hul ondersoek na Jeffrey Epstein se beweerde sekshandel en seksuele mishandeling van meisies, wat glo tot so jonk as 14 was.Foto: Getty Images

Die Daily Mail  het Dinsdag berig volgens vlugplanne wat dié koerant bekom het, was Roberts in 2001 op al drie plekke soos sy beweer. Die koerant meld ook dat prins Andrew in dieselfde omtrek was, maar sê daar is geen bewyse dat dié vlugrekords Roberts se beskuldigings staaf dat sy deur Epstein “gedwing” is om seks met die prins te hê nie.

Die aantygings teen prins Andrew het in 2015 aan die lig gekom in ’n saak wat Roberts teen Epstein gemaak het. Die Amerikaanse regter het dié aantygings geskrap omdat dit volgens hom nie betrekking op die saak gehad het nie.

Dit was ook in 2015 toe die Britse metropolisie volgens Channel 4 die “beskikbare getuienis” begin hersien het, maar besluit het ’n verdere ondersoek is nie nodig nie.

Selfs nadat Epstein vantevore in 2008 agter tralies beland het weens seksdade met kinders het hy en die prins steeds vriende gebly.

Nadat ’n foto van hom en prins Andrew in 2010 in Central Park in New York verskyn het, moes die prins sy rol as handelsambassadeur vir Brittanje laat vaar.

Die Daily Mail het ook Maandag foto’s gepubliseer van die prins in die voordeuringang van Epstein se New Yorkse woning. Op die foto’s waai prins Andrew vir ’n vrou wat pas by die huis uit is. Dié foto’s is in 2010 geneem nadat Epstein tronkstraf as ’n seksoortreder uitgedien het.

Die prins het ná die publikasie van dié foto’s in ’n verklaring gesê hy is met afsku vervul oor die aantygings teen sy eertydse vriend.

Ghislaine Maxwell, wat glo jong meisies “gewerf” het om Epstein te masseer en daarna met hom seks te hê, het die prins aan Epstein voorgestel. Sy is die dogter van die Britse mediabaron Robert Maxwell. 


Meer oor:  Prins Andrew  |  Jeffrey Epstein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.