Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Protes raak Shoprite, MTN en MultiChoice in Afrika

Die aanvalle op buitelanders in Suid-Afrika is besig om regstreeks ’n invloed te hê op Suid-Afrikaanse maatskappye wat in Afrika sake doen.

Die Shoprite-groep sê verskeie van sy winkels in Suid-Afrika, Nigerië en Zambië kon Woensdagoggend nie oopmaak nie weens protesaksie.

Aansienlike skade is aan verskeie winkels aangerig, het die maatskappy in ’n verklaring gesê.

Die polisie hou vandeesweek toesig oor ’n groep betogers in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Hy kon nog nie bevestig of dit een van sy winkels in Lagos, Nigerië, insluit nie. Dié winkel is glo afgebrand.

Shoprite doen sake in 15 lande in Afrika.

MTN het bevestig vier van sy afsetpunte is in Nigerië aangeval en is intussen gesluit. Niemand is beseer nie. Sommige van sy takke in Johannesburg moes ook gesluit word.

Shoprite het in sy verklaring gesê hy veroordeel enige vorm van geweld teen en intimidasie van buitelanders in Suid-Afrika. Hy hoop die xenofobiese aanvalle kom gou tot ’n einde.

Verskeie takke van MultiChoice in Nigerië en Zambië is gesluit, berig Fin 24.

MTN en MultiChoice, wat albei belange in Nigerië het, het in afsonderlike verklarings hul besorgdheid oor die aanvalle op buitelanders uitgespreek.

MultiChoice het in sy verklaring gesê die aanvalle op buitelanders plaaslik is “teen die gees van Afrika en teenproduktief vir die werk wat Afrika-leiers en ander organisasies dekades lank gedoen het om die vasteland te verenig”.

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) het Woensdagoggend ontken die staatshoofde van Rwanda, Malawi en die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) het hulle weens die aanvalle op buitelanders aan die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) oor Afrika, wat nou in Kaapstad gehou word, onttrek.

Lunga Mahlangu, woordvoerder van Dirco, sê Suid-Afrika was al geruime tyd bewus daarvan dat Rwanda se pres. Paul Kagame nie die beraad kon bywoon nie.

Die staatshoofde van onderskeidelik Malawi en die DRK, Peter Mutharika en Félix Tshisekedi, het nie aangedui dat die aanvalle op buitelanders die rede is waarom hulle nie die beraad gaan bywoon nie.

Zambië se sokkerspan het hom Dinsdag onttrek aan ’n vriendskaplike wedstryd teen Bafana Bafana weens die aanvalle op Afrika-burgers in Suid-Afrika.

Mahlangu het gesê dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, vergader gereeld met die ambassades en hoë kommissariate van Afrika-lande. Dit was ook die geval toe Lindiwe Sisulu dié departement se minister was.

“Op dié vergaderings word alle sake van gemeenskaplike belang bespreek. Dit sluit in die aanvalle op buitelanders.

“Die ambassadeurs en hoë kommissarisse van Afrika-lande weet Dirco se deur is altyd oop as daar ’n dringende saak is wat hulle wil bespreek. Hulle weet ook hoe besorg die Suid-Afrikaanse regering oor die probleem is,” het Mahlangu gesê.

Tog het News24 berig pres. Muhammadu Buhari van Nigerië het Dinsdag Bobby Moroe, Suid-Afrika se waarnemende hoë kommissaris in Nigerië, ontbied en sy “diepe kommer” oor die aanvalle op Nigeriërs teenoor hom uitgespreek. Hy sal ook ’n afvaardiging na Suid-Afrika stuur om die saak met die regering op te neem.

Moroe was in daardie stadium nie bewus van enige ander ambassadeur of hoë kommissaris wat dringend met Pandor in gesprek wou tree oor die jongste vlaag van aanvalle nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het Dinsdag ’n ernstige beroep op Suid-Afrikaners gedoen om op te hou om buitelanders aan te val. Hy het dit Woensdagoggend op ’n ontbyt wat die forum in Kaapstad voorafgegaan het, herhaal.

* Agri SA het in ’n verklaring gesê die jongste aanvalle op vragmotors en belangrike toegangsroetes het ’n regstreekse invloed op die landbousektor deurdat insette, bederfbare en ander produkte nie betyds afgelewer word of hul bestemming bereik nie.

“Dit dra by tot groot verliese in ’n land waar voedselsekerheid van uiterste belang is.”

Meer oor:  Mtn  |  Shoprite  |  Multichoice  |  Nigerië  |  Zambië  |  Protesoptogte  |  Xenofobie  |  Xenofobiese Geweld  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.