Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Pyl-en-boë? Hy is beslis ’n terroris!

Die Mosambiekse polisie gebruik “onbeduidende, gewone” goed wat uit hul huis gekonfiskeer is as “bewyse” dat haar man, André Hanekom (61), ’n terroris is.

Die Suid-Afrikaanse egpaar Francis Hanekom en André, haar man. Hy word in Mosambiek daarvan beskuldig dat hy by ’n terroriste-bedryfwighede betrokke was. Foto: Facebook

Hanekom word daarvan beskuldig dat hy by ’n ekstremistiese jihad-groep in Mosambiek betrokke is en word glo onder haglike omstandighede op ’n militêre basis aangehou.

“Dit is heeltemal absurd,” sê sy vrou, Francis Hanekom, oor bewerings dat Hanekom die logistieke hoof is van Ahlus Sunnah wal Jamaah, wat hom in die noorde van Mosambiek beywer vir ’n onafhanklike staat.

Mosambiekse aanklaers voer aan Hanekom het onder meer lede van die groep se salarisse van $160 betaal en hulle van medisyne en wapens voorsien.

“André is in Augustus deur die militêre polisie ontvoer en hulle het 99 dae later – op 6 November – by ons huis ingestap en dit deursoek.

‘Dit is heeltemal absurd.’

“Hulle het fakkels gekonfiskeer wat as noodseine op ons bote gebruik word, asook visvangnette, pangas en twee pyl-en-boë wat as versierings teen my muur hang.

“Hulle het ook drie spuitnaalde wat ek gebruik om ons bokke in te ent, vitamienes wat verval het en ’n soutoplossing vir my asmapomp gevat.

“Agterna het hulle aangevoer dit is plofstof, medisyne en wapens wat André vir die jihad-groep bymekaargemaak het.

“Dit is die rede waarom hy nou onwettig en onder haglike omstandighede op ’n militêre basis aangehou word en ek nie naby hom mag kom nie. Dit is obseen, verregaande en skokkend,” sê sy.

André Hanekom

Volgens Francis sit “invloedryke en magtige mense” agter haar man se inhegtenisneming, want hulle wil glo sy eiendom op die strand in Palma in die hande kry. Palma is digby die Tanzaniese grens en is ryk aan natuurlike gas. Die egpaar woon al 26 jaar in die gebied.

“Dit is bitter gevaarlike mense wat jou sal laat doodmaak,” sê sy.

Francis vertel hul nagmerrie het op 1 Augustus begin toe André geld by ’n bank in Palma gaan trek het.

“ ’n Groep gewapende mans met klapmusse in ’n Land Cruiser het probeer om hom van die pad af te druk.

“André het gedink dit is ’n rooftog en het toe na die Amarula-hotel gejaag omdat dit deur gewapende veiligheidsbeamptes bewaak word.

“Toe hy by die hotel uit sy motor spring, het een van die mans uit die Land Cruiser geklim, hom vasgegryp, sy pistool teen sy skouer gedruk en die sneller getrek.” Hy is in sy maag en linkervoorarm gewond.

André is daarna agterop die Land Cruiser gegooi, geblinddoek en na ’n landelike hospitaal in Mueda, sowat twee-en-’n-halfuur suidwes van Palma, geneem, vertel sy.

“Dit het my twee dae gevat om hom in die hospitaal op te spoor waar hy onder polisiebewaking aangehou is.

“Hy het daarna 27 dae lank verdwyn. Ek het oral na hom gesoek en ek was by elke tronk in die provinsie (Cabo Delgado).

“Ek het uiteindelik vasgestel dat hy op ’n militêre basis aangehou word. Hy was brandmaer toe ek hom uiteindelik vind.”

Sy sê hul prokureur het ’n hofbevel bekom dat hy vrygelaat moet word, maar “die owerhede het dit bloot geïgnoreer”.

Volgens Francis het sy om hulp aangeklop by die Suid-Afrikaanse departement van internasionale betrekkinge en samewerking, maar is glo geïgnoreer.

“Die ergste van alles is dat (minister) Lindiwe Sisulu dié week uit haar pad gegaan het om André se naam te beswadder.”

Sisulu het Dinsdag in ’n verklaring gesê sy ag die bewerings teen Hanekom in ’n baie ernstige lig nadat ’n internasionale nuusagentskap berig het hy en twee Tanzaniërs is Maandag gearresteer.

Volgens Sisulu het sy ’n verslag van Mandisi Mpahlwa, Suid-Afrikaanse hoë kommissaris in Mosambiek, oor die klagte teen Hanekom gekry.

Hy is nog steeds nie formeel aangekla nie, het sy vrou gister uit Mosambiek gesê.

Meer oor:  André Hanekom  |  Mosambiek  |  Terrorisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.