Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
R1 m. per uur vir leier se vlug na Moskou

Die Boeing Dreamliner waarmee pres. Emmerson Mnangagwa van Zimbabwe hierdie week na Moskou gevlieg het, is die enigste van sy soort ter wêreld en kos die bankrot land minstens R1 miljoen per uur om in die lug te hou.

Die sitkamer van die Dreamliner.

’n Boeing 787 soos dié kan gewoonlik tussen 240 en 330 passasiers dra, maar die een wat Mnangagwa gehuur het, het slegs plek vir 40 passasiers omdat daar plek gemaak moet word vir die soort geriewe wat ’n mens net in ’n vyfsterhotel sal verwag.

Die vliegtuig behoort aan die Dubaise maatskappy Deer Jet en is die enigste Boeing Dreamliner wat so luuks ingerig is.

Net die basiese koste van die vliegure van sy vlug van Harare na Moskou en later na Davos en terug sou genoeg gewees om minstens 533 Zimbabwiese dokters se maandelikse salaris te betaal.

Die straler se hoofslaapkamer. Foto’s: Deer Jet

Mnangagwa het Sondag kort voor sy vertrek sy land verlam deur die brandstofprys oornag met 150% te verhoog. Daarna is hy in ultraluuksheid Moskou toe waar hy blykbaar by pres. Wladimir Poetin sou gaan bakhand staan om Zimbabwe uit sy finansiële verknorsing te help.

Met die roepsein 2DEER is die vliegtuig die vlagskip van die Chinese Deer Jet-maatskappy, wat vanuit Dubai met sy vloot BBP-stralers woeker.

Aan boord is net die duurste kristalglasware, kussings, silwer en porselein. Dieselfde vliegtuig is die afgelope paar maande ook deur die presidensies van Angola en van die Kongo (Brazzaville) gehuur.

Bewerings in die Zimbabwiese media en pertinent deur prof. Jonathan Moyo, oudminister van hoër onderwys in oudpres. Robert Mugabe se kabinet wat nou in selfopgelegde ballingskap, vermoedelik in Oos-Afrika, skuil, wou dit hê dat Mnangagwa dalk sukkel om vir die vlugkoste te betaal.

Op Twitter was daar bewerings dat die regering vooraf R32 miljoen in kontant vir die reis se vlugkoste moes betaal.

Moyo het Donderdag beweer die verhuringsagent het aangedring op volle betaling van die hele reis se vlugte in die lig van die onstabiliteit in die land. Jealousy Mawarire, woordvoerder van die Mugabe-goedgesinde Nasionale Patriotiese Front, het getwiet dat Mnan­gagwa gestrand kan wees in Rusland as Zimbabwe se Reserwebank nie die transaksie vinnig sou magtig nie.

Dié bewerings is as politiekery afgemaak, maar teen Saterdag het die naspeuringsprogram Flightradar24 gewys dat die straler van verlede Sondag af nog nie uit Moskou beweeg het nie.

Dae wat ’n straler ongebruik geparkeer staan, word in kommersiële huurterme teen ’n koste van sowat tien vliegure per dag bereken. Die parkeerkoste daarvan beloop net vir die eerste vyf dae dus reeds sowat R13,6 miljoen.

Meer oor:  Emmerson Mnangagwa  |  Zimbababwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.