Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Ramaphosa na AU-noodberaad in Egipte

Pres. Cyril Ramaphosa sal ’n noodberaad van die Afrika-Unie in Egipte bywoon waar die politieke en veiligheidskrisisse in Soedan en Libië bespreek sal word.

Khusela Diko, Ramaphosa se woordvoerder, sê die president en sy afvaardiging het Maandag na die AU Troika-beraad vertrek wat pres. Abdel Fattah el-Sisi van Egipte, in sy hoedanigheid as AU-voorsitter, saamgeroep het.

Pres. Cyril RamaphosaFoto: Adrian de Kock

Ramaphosa word vergesel deur Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, en Dipuo Letsatsi-Duba, minister van staatsveiligheid.

Die beraad sal volgens Diko ook bygewoon word deur Moussa Mahamat Faki, AU-kommissievoorsitter, wat na verwagting verslag sal doen oor AU-inisiatiewe om die krisisse in die twee lande op te los.

Volgens Diko dien die krisisse in die twee lande ook reeds voor die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad, waarvan Suid-Afrika ’n niepermanente lid is.

“Pres. Ramaphosa het streeks- en kontinentale vrede, stabiliteit, veiligheid en integrasie en ontwikkeling geprioritiseer en sal die noodberaad bywoon om by te dra tot die AU se doelwit om die vuurwapens in die twee lande teen 2020 stil te maak,” sê Diko.

Intussen het Reuters Maandag berig hoe Soedan tans steeds op ’n mespunt is sedert die omstrede Omar al-Basjir op 11 April as staatshoof deur die weermag verwyder is ná weke lange betogings.

Die land ervaar ’n ekonomiese krisis wat gelei het tot kontanttekorte en lang rye by onder meer bakkerye en petrolstasies. Ontleders blameer die krisis op ekonomiese wanadministrasie, korrupsie en die uitwerking van Amerikaanse sanksies.

Die nuusdiens het Maandag verder berig hoe Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) ooreengekom het om $3 miljard in kontant en noodlediging na Soedan te stuur.

Dit is te midde van voortdurende twis tussen die militêre oorgangsraad en betogers en opposisiegroepe wat eis dat burgerlikes ’n oorgangsperiode van twee jaar moet lei. Reuters berig daar is Maandag ook bevestig dat Al-Basjir en ’n aantal top-regeringsamptenare van Soedan in die Kobar-gevangenis in Khartoem aangehou word.

Hulle sal van korrupsie aangekla word. Vroeër is ook berig dat die owerhede 7 miljoen en $350 000 in kontant in Al-Basjir se huis gekry het.

Oor Libië het die Britse The Guardian berig hoe verskeie lugaanvalle Tripoli Saterdagnag geruk het soos wat die VAE-gesteunde aanval op die hoofstad toegeneem het wat deur Khalifa Haftar gelei word.

Daar is hiertydens glo ook vir die eerste keer van gewapende hommeltuie gebruik gemaak.

Haftar is ’n voormalige generaal in Moeammar Ghaddafi se weermag en leier van die oostelike Libiese nasionale leër.

Die doel van Haftar se aanvalle is luidens The Guardian om die Amerikaans erkende regering in Tripoli tot ’n val

te bring.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Libië  |  Egipte  |  Soedan  |  Afrika-Unie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.