Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Redding: Al 13 is uit grot
Die laaste ambulans vertrek Dinsdagaand van ’n militêre vliegveld in Tsjiang Rai na die hospitaal waar die hele sokkerspan nou behandel word. Foto: Tyrone Siu/Reuters

Die laaste van die jong sokkerspelers en hul afrigter wat 17 dae in ’n grot in Thailand vasgekeer was, is Dinsdag deur nou tonnels vol water na veiligheid gebring in ’n internasionale reddingspoging.

Mense wêreldwyd het die gewaagde reddingspoging, wat Sondag begin het, gevolg.

Gelukwense het ná die suksesvolle redding ingestroom. Ook pres. Donald Trump van Amerika het die reddingswerkers op Twitter geluk gewens.

Die laaste helikopter wat Dinsdag van die Tham Loeang-grot vertrek het, land op die vliegveld van die Thaise lugmag.Foto: Tyrone Siu/Reuters

Die Thaise spesiale magte het Dinsdag in ’n boodskap op hul Facebook-blad die eerste amptelike bevestiging gegee dat al 12 seuns en hul afrigter uit die grot gered is.

Saman Koenan, ’n lid van die Thaise spesiale magte, is wyd op Twitter vereer vir sy heldedaad om aan die begin van die reddingspoging suurstof na die vasgekeerdes te neem. Koenan is dood in die tonnelnetwerk tussen die grot en die uitgang en sy lyk is deur ’n mededuiker uitgebring.

Die sokkerspan se afrigter, Ekkapol Tsjantawong (25), is deur sommiges gekritiseer omdat hy die seuns op die uitstappie in die grot ingevat het. CNN berig daar is vrae oor die roekeloosheid van die uitstappie in grotte wat bekend is daarvoor dat dit in die reënseisoen oorspoel kan word.

Die sokkerspan en hul afrigter is gered.

Tsjantawong was die laaste van die groep wat uit die grot gered is.

Thailanders wat vir hom opkom, sê die kritiek is onregverdig – hy is ’n betroubare man en hy was jare lank ’n monnik. Hy het ook die seuns in die donkerte van die grot geleer om te mediteer en positief te bly terwyl hulle op redding gewag het.

Vrywilligers wat by die Tham Loeang-grot gehelp het, wys hul vreugde. Vrywilligers het onder meer gehelp deur kos te maak vir die reddingswerkers op die toneel. Foto: Soe Zeya Tun/Reuters

Die groepie seuns, tussen 11 en 16 jaar oud, en hul afrigter het op 23 Junie vermis geraak. Hul fietse is voor die Tham Loeang-grot ontdek.

Britse duikers was die eerste mense wat hulle op 2 Julie sowat 4 km diep in die grot ontdek het waar hulle in die stikdonker in ’n groepie saamgebondel was.

Dele van die tonnel na die grot was heeltemal oorspoel en daar is dae lank gewerk aan ’n plan om hulle te red.

Selfs Elon Musk het ’n spesiale duikkapsule laat ontwerp wat gebruik kon word om die kinders na buite te bring. Musk het die grot Maandagaand besoek en die kapsule daar afgelewer indien dit gebruik kon word.

Sers.maj. Saman Koenan word op Twitter bedank dat hy sy lewe opgeoffer het om die kinders te red.Foto: Twitter

Reuters berig Sondag is die eerste vier kinders deur duikers uitgehaal, Maandag is nog ’n groep kinders gered en Dinsdag is die laaste vier kinders en die afrigter gered.

Daar is reeds berig die seuns wat eerste gered is, verkeer in goeie gesondheid in ’n hospitaal. Hulle dra donkerbrille om hul oë te beskerm nadat hulle so lank in die donker was.

Die BBC het nadat die reddingspoging afgehandel is, gesê die gesinne van die laaste kinders wat gered is, het Dinsdag in die stad Tsjiang Rai by die hospitaal gewag en toegekyk hoe ambulanse met die laaste pasiënte aangery kom. Sommige het gesê hulle kan dit nie glo nie, terwyl ander gesê het hulle het nooit hoop laat vaar nie. Almal het breed geglimlag.

Die kinders word deur sielkundiges gehelp om vas te stel wat die impak van dié beproewing op hulle was.

Meer oor:  Reddingspoging  |  Grot  |  Thaise Seuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.