Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Reënboog-golf verswelg Trump se nasionalisme

’n Blou golf van meestal vroue, minderhede en jong kiesers het pres. Donald Trump se nasionalistiese agenda vir Amerika help stuit.

Die Demokratiese Party het die huis van verteenwoordigers in die middeltermynverkiesing met ’n kragtige “reënboog-golf” van kiesers – uit almal wat die president al beledig het – gewen.

Die Demokrate het 26 setels in die huis van verteenwoordigers gewen om met 219 setels teen die Republikeine se 195 te lei.

In die senaat het die Republikeine 52 (drie gewen) teen die Demokrate se 45 setels.

In wat as na die stryd tussen die twee Amerikas verwys word, het die sogenaamde reënboog-kiesers – vroue, swart mense en immigrante – teen die ouer, wit Trump-ondersteuners in die Republikeinse Party te staan gekom.

Trump se wittebroodsdae is verby, het Tom Davis, gewese Republikeinse kongreslid vir Virginië, aan The New York Times gesê.

“Die regering gaan nou strenger dopgehou en verantwoordbaar gehou word. Kyk uit vir meer ondersoeke en dagvaardings. Die wittebrood is verby. Die kiesers wil hê die president moet dopgehou word, eerder as wat hy ’n blanko tjek kry.”

Die wittebrood is verby. Die kiesers wil hê die president moet dopgehou word, eerder as wat hy ’n blanko tjek kry.
Pres. Donald Trump se mag is aansienlik ingeperk nadat die Demokrate die huis van verteenwoordigers in die middeltermynverkiesing gewen het. Foto: Reuters

Nancy Pelosi, leier van die Demokrate in die huis van verteenwoordigers, sê die oorwinning gaan oor meer as net die mededinging tussen die Demokrate en Republikeine – dit gaan oor die herstel van die Amerikaanse grondwet se wigte en teenwigte, en die implikasies daarvan vir die Trump-regering.

Dit is om Mitch McConnell, meerderheidsleier in die senaat, en die Republikeine se aanslag op Medicare, Medicaid en Obamacare stop te sit en te verseker dat 130 miljoen Amerikaners met bestaande siektes gehelp word, sê sy.

Volgens The New York Times het Pelosi vroeër aangedui dat die Demokrate nie gaan probeer om Trump in ’n staat van beskuldiging te plaas nie. Maar sy tydjie van maak en breek soos hy wil, beledigings uitdeel, wilde twiets en nóg wilder spronge in beleid, is egter vir eers op ’n einde.

Die Demokrate gaan nou vir sy keel. Hulle sal Trump en sy beleidsghoeroes in die Withuis behoorlik braai met dagvaardings om voor die kongres se komitees te kom getuig.

Wanneer die Demokrate wen, en ons sal vanaand wen, sal ons ’n kongres hê wat oop, deursigtig en verantwoordbaar aan die mense van Amerika is.

Veral Trump se beweerde belastingontduiking en sy sakebedrywighede se duistere doen en late gaan onder die vergrootglas kom. Ook sy kontak met Rusland en konflik van belange gaan beslis deur die Demokratiese kongres ondersoek word.

Daarby sal elke stuk wetgewing wat hy deurgevoer wil hê, ’n geveg afgee, en Trump sal vinnig moet leer om met sy politieke teenstaanders te onderhandel.

Intussen wag die spesiale ondersoeker Robert S. Mueller se kommissie van ondersoek na die Russe se inmenging in die presidentsverkiesing nog op Trump.

Dit sal alles bepaal of hy oor twee jaar ’n kans staan om as president herverkies te word. Hoewel hy altyd goed sal vaar in die konserwatiewe, landelike state, gaan hy moeilik wen sonder die steun van die onafhanklike kiesers – en dié groep het met minstens 12% van hom af weggedraai.

Hoewel die Republikeinse Party steeds die senaat beheer, sal dit egter aansienlik moeiliker wees vir Trump om omstrede wetgewing deur te voer.

“Wanneer die Demokrate wen, en ons sal vanaand wen, sal ons ’n kongres hê wat oop, deursigtig en verantwoordbaar aan die mense van Amerika is,” het Pelosi Dinsdagaand gesê voordat die laaste uitslae bekend gemaak is.

Alexandria Ocasio-Cortez, nuwe Demokratiese kongreslid vir New York en een van die leiers in die reënboog-koalisie, het gesê dit is nie ’n veldtog van die Demokrate nie, maar ’n “beweging vir maatskaplike, ekonomiese en rasse-geregtigheid in die Verenigde State van Amerika”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.