Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Regering vies oor 'spioenasie' met Cyril se foon

Die regering is baie ongelukkig oor die moontlikheid dat pres. Cyril Ramaphosa een van 14 staatshoofde is wie se selfoonnommer op ’n uitgelekte lys van mense is op wie daar deur Pegasus-bespiedware (spyware) gespioeneer is.

Só het Khumbudzo Ntshavheni, waarnemende minister in die presidensie, Woensdagmiddag op ’n mediakonferensie in Pretoria gesê.

Die Britse koerant The Guardian berig Ramaphosa se naam verskyn saam met dié van onder andere pres. Emmanuel Macron van Frankryk en Imran Khan, eerste minister van Pakistan, op die lys.

Pegasus is spioenasieware wat deur die Israeliese maatskappy NSO ontwerp en bemark word en aan regerings en wetstoepassingsagentskappe verkoop word met die bedoeling om misdaad en terreur te bestry.

Ons is uiteraard baie ongelukkig hieroor, nie net omdat die president se privaatheid geskend is nie, maar ook Suid-Afrika se soewereiniteit.
Min. Khumbudzo Ntshavheni

Dit blyk nou egter dit word deur sommige lande misbruik, het ’n uitgebreide ondersoek deur 17 mediaorganisasies onthul.

Rwanda het Ramaphosa se selfoonnommer glo in 2019 geïdentifiseer.

Ntshavheni het gesê Suid-Afrika beskou die moontlikheid dat daar op Ramaphosa gespioeneer is, in ’n baie ernstige lig.

“Ons is uiteraard baie ongelukkig hieroor, nie net omdat die president se privaatheid geskend is nie, maar ook Suid-Afrika se soewereiniteit.”

Ntshavheni sê die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) moet vasstel of daar met Ramaphosa se foon gelol is.

Met moontlike verwysing na die feit dat Rwanda glo in 2019 Ramaphosa se foon geïdentifiseer het, het die minister gesê dit is jammer dat die verslag uitgereik is juis noudat “die betrekkinge in die streek begin verbeter het”.

Dit is bekend dat die betrekkinge tussen Suid-Afrika en Rwanda die laaste paar jaar gespanne was.

Ntshavheni het ’n beroep op ander lande gedoen om Suid-Afrika se soewereiniteit te respekteer en eerder deur diplomatieke kanale met hom te kommunikeer.

Ramaphosa het baie noue betrekkinge met Macron en ook met onder meer die G7-nywerheidslande, die sogenaamde G20-groepering en die Wêreldgesondheidsorganisasie. Hy was boonop verlede jaar voorsitter van die Afrika-unie.

NSO ontken die bevindings van die ondersoek en sê in ’n verklaring dit is “vol verkeerde aannames en teorieë”.

Hy het hom gedistansieer van die uitgelekte lys en het benadruk die Pegasus-program is slegs bedoel vir gebruik deur intelligensie- en wetstoepassingsagentskappe om terreur en misdaad te bekamp.

Die lys van mense wat deur sekere regerings as persone van belang geïdentifiseer is, is egter beduidend.

Die betrokke lande wat geïdentifiseer is, sluit in Marokko, Indië, Saoedi-Arabië, asook Rwanda en staatsentiteite in Mexiko.

Frankryk het reeds aangedui hy gaan die beweerde spioenasie ondersoek, terwyl NSO aangedui het hy gaan hom tot die howe wend, wat sal bepaal dat hy ’n slagoffer van naamskending is, het Reuters berig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.