Terwyl die meeste aandag op Amerika se presidentsverkiesing Dinsdag is, word rekordgetalle Covid-19-gevalle in byna oorvol hospitale aangemeld en tot 1 000 mense sterf per dag.
Amerika het Vrydag sy 9 miljoenste geval aangeteken, bykans 3% van die bevolking, met byna 229 000 wat gesterf het sedert die begin van die pandemie, volgens Reuters se berekeninge uit gerapporteerde data.
Dié land het volgens die data Donderdag sy eendag-rekord vir nuwe virusinfeksies verbygesteek en minstens 91 248 nuwe gevalle aangemeld. Die versnellende tempo van infeksies het voortgegaan namate die data Vrydag ingekom het, met 12 state wat ’n rekordgetal nuwe daaglikse gevalle aangemeld het.
Ernstige gevalle van Covid-19 het ook toegeneem en hospitale in ses state het die meeste pasiënte nóg gehad wat aan die siekte ly. Die aantal Covid-19-pasiënte wat in die hospitaal opgeneem is, het in Oktober met meer as 50% gestyg tot 46 000, die hoogste sedert middel Augustus.
Die state wat die swaarste getref is, is die wat die ernstigste betwis word in die verkiesing tussen die Republikeinse president, Donald Trump, en sy Demokratiese uitdager, Joe Biden, en sluit in Michigan, Noord-Carolina, Ohio, Pennsilvanië en Wisconsin.
Vir die derde keer vandeesmaand het meer as 1 000 mense Donderdag aan die virus gesterf, en die tempo van noodlottige gevalle sal na verwagting aanhou toeneem.
Die pas bygewerkte model van die Universiteit van Washington projekteer die dodetal sal begin klim in die rigting van ’n nuwe rekord van meer as 72 000 in Januarie.
Dié syfer sal die byna 61 000 sterftes in April oorskadu, ’n getal wat aangeteken is toe die pandemie die eerste keer in die land ontplof het en hospitale in New York oorweldig is.
“Ons hospitale kan nie tred hou met die aantal infeksies van Utah nie,” het Gary Herbert, goewerneur van Utah, op Twitter gesê as deel van ’n groot groep beamptes en spesialiste met dieselfde mening uit ander state.
“Julle verdien om die haglike situasie waarvoor ons te staan ??kom, te begryp.”
‘Nie heeltemal voorbereid nie’
Ashish Jha, dekaan van die Brown University School of Public Health in Providence, Rhode Island, het gesê die land se toetsing is onvoldoende.
“Ons het nou een van die grootste uitbrekings wat ons nog gedurende die hele pandemie gehad het,” het Jha aan Reuters gesê. “En nege, tien maande ná die begin van die pandemie is ons nog steeds nie heeltemal voorbereid nie.”