Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Republikeine draai hul rug op Trump

Minstens vyf Republikeine in die Amerikaanse huis van verteenwoordigers het aangedui dat hulle ten gunste daarvan sal stem om pres. Donald Trump in ’n staat van beskuldiging te plaas.

Die huis van verteenwoordigers stem later Woensdag hieroor.

Die aanklagte teen Trump is dat hy die opstand deur betogers aangemoedig het toe hulle die kongresgebou in Washington verlede Woensdag bestorm het. Hy het vroeër die dag in ’n toespraak weer eens aangevoer die presidentskap is by hom gesteel en bewerings herhaal dat die verkiesing verlede jaar bekook is.

Daar is nog net sewe dae oor voordat die aangewese president, Joe Biden, ingehuldig word, dus is die vraag nou of daar nog genoeg tyd is vir ’n verhoor in die senaat, (die hoër huis van die kongres), sou die Demokrate se resolusie in die huis van verteenwoordigers, (die laer huis) slaag.

Ingevolge ’n resolusie waarvoor die demokrate in die huis van verteenwoordigers laat Dinsdag gestem het, vra hulle dat Mike Pence, visepresident, onmiddellik sy magte gebruik om die hoofamptenare van regeringsdepartemente in die kabinet “saam te roep en te mobiliseer om te verklaar wat voor die hand liggend is vir ’n nasie wat met afgryse gevul is: Dat die president nie daartoe in staat is om sy pligte suksesvol uit te voer nie.”

Pence het vroeër die dag dieselfde versoek deur Nancy Pelosi, speaker van die huis van verteenwoordigers, in ’n brief verwerp.

“Ek glo nie dat dit in die beste belang van ons nasie is of in ooreenstemming met ons grondwet is nie,” het Pence gesê.

Die vyf Republikeine wat ten gunste gaan stem is volgens Reuters Liz Cheney, John Katko, Adam Kinzinger en Fred Upton.

Volgens The Washington Post, wat deur Reuters aangehaal is, is Mitch McConnell, die Republikeinse leier in die senaat, in sy noppies oor wat die Demokrate beplan, omdat dit dinge vir die party, wat glo beplan om Trump uit te skop, sal vergemaklik.

Pres. Donald Trump praat op ‘n byeenkoms voordat die kongresgebou verlede Woensdag deur sy ondersteuners bestorm is. Foto: Reuters

Minstens 17 Republikeinse senatore moet ten gunste daarvan stem om Trump uit sy amp te verwyder, nadat die verhoor in die senaat gehou is.

“Dit gaan nie moeilik wees nie, omdat ek dink McConnell nie wil hê die aanslag op die kongresgebou moet die party voortaan definieer nie,” het ’n amptenaar in die binnekringe aan Reuters gesê.

McConnell het egter gesê ’n verhoor in die senaat kan nie begin voordat die senaat nie op 19 Januarie weer byeen geroep word ná afloop van die Desember-reses nie.

Die Demokrate gaan egter nadat Kamala Harris as Biden se visepresident ingehuldig is, die meerderheid in die senaat hê. Daarom meen Chuck Schumer, die leier van die Demokrate in die senaat, die senaat kan voor 19 Januarie byeen geroep word om die verhoor te hou.

Die Demokrate kan ook die verhoor gebruik om ten gunste daarvan te stem dat Trump hom nie weer verkiesbaar as president kan stel nie.

Trump het aangedui hy wil weer aan die verkiesing in 2024 deelneem.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.