Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Republikeine sit druk op Trump
Rudy sweet dat die haarkleursel loop . . . Rudy Giuliani, oudburgemeester van New York en een van pres. Donald Trump se regsverteenwoordigers, Donderdag op ’n nuuskonferensie in Washington. Foto: Jacquelyn Martin, AP

Druk neem toe in Republikeinse geledere in die Amerikaanse kongres dat pres. Donald Trump met die oorgangsproses vir Joe Biden begin.

Verskeie kongreslede van Trump se eie party trek sy bewerings oor kiesbedrog in twyfel.

Sen. Lamar Alexander van Tennessee, wat einde vanjaar aftree, sê Biden staan “ ’n baie goeie kans” om die volgende president te word. Die verloorder in die verkiesing moet “die land eerste plaas, die wenner geluk wens en hom help om die nuwe termyn goed te begin”, het Alexander in ’n verklaring gesê.

Fred Upton van Michigan, ’n lid van die huis van verteenwoordigers, het Vrydag aan verslaggewers gesê: “Ek het nog geen bewyse van bedrog gesien wat 150 000 en meer stemme (waarmee Biden Trump in dié deelstaat geklop het) ongedaan sal maak nie.”

Daar is “ ’n regte manier en ’n verkeerde manier” vir Trump om “wat hy as verkiesingsongerymdhede beskou” te betwis, het sen. Susan Collins van Maine in ’n verklaring gesê.

“Die regte manier is om bewyse bymekaar te maak en regsgedinge in ons howe aanhangig te maak. Die verkeerde manier is om druk op staatskiesbeamptes te probeer plaas.”

Die konserwatiewe sen. Dan Sullivan van Alaska het aan verslaggewers gesê Trump het ’n hoë hekkie om oor te kom om sy bewerings te bewys dat die Demokrate die verkiesing “gesteel” het. “En hulle moet dit in die hof bewys.”

Sen. Mitt Romney van Utah, wat al erg krities oor Trump se optrede was, het getwiet Trump kon nie ’n geloofwaardige saak uitmaak dat daar wydverspreide verkiesingsbedrog was nie en nou probeer hy druk op amptenare uitoefen om die uitslag omver te werp. “Dis moeilik om jou slegter, meer ondemokratiese optrede in te dink.”

Tot dusver het Republikeine in die kongres meestal gesê Trump moet die ruimte gegun word om die stryd oor beweerde verkiesingsongerymdhede in die hof te voer.

In werklikheid slaan Republikeine oral ’n nuwe blaadjie om.

Nou lyk dit of daar ’n rimpeleffek teen Trump is, sê ’n strateeg wat al by baie veldtogte betrokke was.

Byna onmiddellik ná die verkiesing op 3 November het die “nooit-Trumpers” ’n beroep op Trump gedoen om die mag aan Biden te begin oorhandig, gevolg deur die “marginale nooit-Trumpers”.

Nou sluit Republikeine wat Trump die laaste vier jaar onwillig gesteun het, hulle ook by dié groep aan. “In werklikheid slaan Republikeine oral ’n nuwe blaadjie om,” sê die strateeg.

Jim Banks, aangewese voorsitter van ’n groot groep konserwatiewe lede van die huis van verteenwoordigers, het indirek erken Biden sal waarskynlik seëvier toe hy aan joernaliste gesê het hy verwag die Demokraat sal “van die eerste dag ’n sukkelaar” in die amp wees.

Die oorgrote meerderheid Republikeine in die kongres het Biden se sege nog nie in die openbaar erken nie.

Al hoe meer van die 50 deelstate se verkiesingsuitslae word bekragtig. Dit sal na verwagting wys Biden het sowat ses miljoen meer stemme as Trump gekry, asook 306 stemme in die kieskollege, wat die wenner bepaal, tenoor Trump se 232.

Trump het weer Vrydag volgehou hy het in die verkiesing gewen.

Sy regsverteenwoordiger Rudy Giuliani het Donderdag op ’n nuuskonferensie gesê daar was ’n hele rits sameswerings teen Trump in die verkiesing, maar hy het geen bewyse daarvoor gegee nie. Reuters

Meer oor:  Joe Biden  |  Donald Trump  |  Amerikaanse Kongres  |  Republikeine
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.