Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
‘Risiko te groot vir SA om militante in Mosambiek te pak’

Die risiko vir Suid-Afrika is eenvoudig te groot om militêr by die stryd teen Islamitiese vegters in die Cabo Delgado-provinsie in die noorde van Mosambiek betrokke te raak.

Sy betrokkenheid daar kan Suid-Afrika kwesbaar maak vir teenaanvalle op tuisbodem, waarsku die veiligheidskenner Jasmine Opperman, ’n navorser van die Amerikaanse navorsingsinstansie Armed Conflict Location and Event Data Project (Acled).

Daarom moet Suid-Afrika dit goed oordink voordat sy soldate in Mosambiek betrokke raak.

Opperman se waarskuwing kom te midde van die verslegtende situasie in Cabo Delgado, waar meer as 50 mense – hoofsaaklik mans en seuns – verlede Vrydag in dié provinsie deur militante onthoof is.

Meer as 2 000 mense is al dood sedert die militante, wat deur Isis gesteun word, in 2017 begin het om dié gas- en olieryke provinsie binne te sypel. Verskeie lande het belange hier.

Die fregat ‘SAS Amatola’ van die vloot. Foto: Jaco Mrais

Opperman sê dit maak nie saak of Suid-Afrika alleen betrokke raak, óf as deel van ’n streeksmag van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) nie. Hy kan probleme verwag.

“Die SAOG het geen ander keuse nie. Hy móét betrokke raak, maar Suid-Afrika moet versigtig wees. As Suid-Afrika blindelings in Mosambiek sou instorm, gaan hy sy vingers verbrand,” sê Opperman.

“Die situasie in Cabo Delgado is baie kompleks. Boonop kan Suid-Afrika nie op die Mosambiekse regering staatmaak nie.

“As Suid-Afrika betrokke sou raak, is sy eerste verantwoordelikheid veiligheid op eie bodem. As jy Isis in Mosambiek gaan pak, word jou risiko vir aanvalle in Suid-Afrika groot,” sê sy.

“Ons moet onsself ook afvra of ons die militêre en finansiële vermoë het om vir ’n lang tydperk in Mosambiek betrokke te raak. Dit sal nie ’n ingryping van twee weke wees nie; dit sal ’n uitgerekte affêre wees.

“Suid-Afrika moet besef hy kan niks doen solank as wat die Mosambiekse regering nie inmenging wil toelaat nie.

“Mosambiek het Suid-Afrika al om hulp gevra, maar was baie vaag oor presies watter hulp hy nodig het. Suid-Afrika het gevra vir ’n sogenaamde padkaart vir wat die Mosambiekse regering hoop om te doen, maar die Mosambiekers het dit nog nie verskaf nie,” sê Opperman.

“Wat Suid-Afrika wel kan doen om ’n verskil te maak, lê eerder in opleiding en die voorsiening van intelligensie aan die Mosambiekse regering.

“Samewerking op maritieme gebied is ook moontlik en Suid-Afrika kan op dié vlak ’n verskil maak.”

Prof. Theo Neethling, ’n militêre en internasionale politieke kenner, sê daar is deurlopende gesprekke tussen die Mosambiekse regering en die Suid-Afrikaanse staatsveiligheidsagentskap (SVA).

“Ek is ook daarvan bewus dat die Suid-Afrikaanse vloot daarna kyk om ’n permanente basis in Richardsbaai in te rig. Hy kan dan op maritieme vlak betrokke raak.”

Die vloot het in Junie ’n maand lange maritieme oefening, Operasie Notela, in Richardsbaai gehou.

“Dit alles is skynbaar deel van ’n poging om ’n beplande gaspypleiding van Mosambiek na Gauteng te beskerm.”

Neethling sê Isis se vroeëre waarskuwing aan Suid-Afrika dat hy aanvalle in Suid-Afrika sal uitvoer as dié land in Mosambiek inmeng, het glo gevolg nadat Amerika en lande in Europa gevra het die Suid-Afrikaanse leër moet ingryp. Daar is egter nog geen aanduiding of Suid-Afrika wel militêr betrokke sal raak nie.

Soos Opperman twyfel hy ook of Suid-Afrika die militêre en finansiële vermoë het om betrokke te raak.

Hy weet ook nie – in die lig van die groot veiligheidsrisiko’s wat dit vir Suid-Afrika inhou – of die politieke wil daar is nie, sê Neethling.

Meer oor:  Mosambiek  |  Terreur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.