Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Rowers val paartjie aan terwyl Zoom-klas toekyk

Drie mans is agter tralies ná ’n aanval op ’n paartjie in Swakopmund, Namibië. Wat hulle nie geweet het nie, is dat deelnemers aan ’n aanlyn oefenklas gesien het wat gebeur.

Riaan Booysen en Lizette Rossouw.

Lizette Rossouw (65) het voorverlede Dinsdagoggend oudergewoonte aan haar gereelde fiksheidsklas deelgeneem. Omstreeks 08:00 het drie mans haar lewensmaat, Riaan Booysen (67), buite die huis in die Ocean View-woonbuurt gekonfronteer. Hulle het hom na binne gestoot, op die paartjie geskree en geld en die sleutels vir die kluis geëis.

Een het selfs ’n koffietafel se poot afgebreek en Booysen daarmee in die gesig begin slaan.

Rossouw se aanlyn oefenmaats het geskok toegekyk hoe Booysen bebloed op die grond val terwyl hy die aanvallers en die pangahoue probeer afweer. Van hulle het egter kalm gebly en die buurtwag en polisie gebel.

Die booswigte het met drie selfone, ’n tablet, 'n polshorlosie en R500 kontant laat spaander. Een van hulle het sy voet seergemaak toe hy oor ’n heining spring. Lede van die buurtwag en die polisie het hulle agternagesit en vasgetrek. Die gesteelde items is teruggekry.

'Dis rof veral omdat ons almal van die Kaap af kom en juis hierheen getrek het vir ’n rustiger lewe.'

Booysen is in die hospitaal opgeneem met gekneusde hande en ernstige beserings aan sy regteroog en oogbank.

Intussen het dit geblyk Zoë, hul gryspapegaai, is weg. Hulle het op sosiale media hulp gevra om hul geveerde huismaat op te spoor.

“Zoë maak fyn geluidjies wanneer sy paniekerig raak, luister fyn asseblief. Sy sal normaal nie ver van haar tuiste vlieg nie en verkies dit grondlangs. Kyk ASB onder bome bosse ens . . . x,” het die aanlyn pleidooi gelui. Die voël is later die dag in die wasgoedmandjie gekry waar sy gaan wegkruip het.

“Dit was ’n massiewe skok vir ons ou klein dorpie,” het Booysen se dogter, Elzanne Wylie, aan Rapport gesê.

“Dis rof veral omdat ons almal van die Kaap af kom en juis hierheen getrek het vir ’n rustiger lewe.”

Dit gaan onder omstandighede beter met haar pa, sê sy. Die wonde aan sy kop weens sewe pangahoue en sy hande waar hy onder meer die lem gegryp en gebuig het, genees goed. Sy oog is egter ’n probleem. Wylie het hom Windhoek toe geneem vir ’n spesialis se mening. Booysen het Donderdag ’n oogoperasie ondergaan.

Andreas Kaushi (36), Ivula Stephanus (25) en Dorien Iyambo (21) het in die landdroshof verskyn op aanklagte van huisbraak en roof met verswarende omstandighede. Borgtog is geweier.

Iyambo het skuld beken en om regshulp aansoek gedoen. Kaushi en Stephanus ontken skuld en het aangedui hulle sal hul eie verdediging behartig.

Meer oor:  Namibië  |  Swakopmund  |  Aanval  |  Zoom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.