Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Ruim bygedra vir gesin van vermoorde SA arts in Kanada

Vriende van dr. Walter Reynolds (44), wat in Kanada vermoor is, het teen Vrydag reeds meer as R3 miljoen (240 000 Kanadese dollar) deur skarefinansiering ingesamel om sy familie by te staan.

Johan Myburgh, een van Reynolds se Kanadese vriende en kollegas, het drie dae gelede ’n Go Fund Me-rekening begin om Reynolds se vrou en dogters finansieel te ondersteun.

“Geld wat deur hierdie veldtog ingesamel word, sal net deur Anelia, sy vrou, gebruik word om reiskoste te betaal vir haar en Walter se naaste familie van Suid-Afrika, begrafnisuitgawes en die opvoeding van sy dogters,” lui sy inskrywing.

“Sy is bygevoeg as die enigste begunstigde van hierdie veldtog.”

Dr. Walter Reynolds van Suid-Afrika is Maandag in Kanada vermoor.

Volgens die Go Fund Me-webwerf, waar mense tot die veldtog kan bydra, is R3,1 miljoen (240 605 Kanadese dollar) teen Vrydagmiddag 14:30 ingesamel. Meer as 2 000 mense het bygedra.

Reynolds is Maandag in ’n instapkliniek in Red Deer met ’n hamer en ’n kapmes aangeval, berig CBC News. Hy is in die hospitaal dood.

Deng Mabiour (54) is op die toneel in hegtenis geneem.

Luidens die Edmonton Journal het hy Woensdag via ’n videoskakel sy eerste hofverskyning gehad, maar aan die regter gesê hy is siek en kan nie enige besonderhede van die aanval onthou nie.

Die saak is tot 9 September uitgestel.

Myburgh skryf dat die gemeenskap van Red Deer Vrydagaand om 19:00 (Kanadese tyd) ’n kerslig-nagwaak ter ere van Reynolds sal hou.

Reynolds se broers, Chris en Eric, het vroeër gesê die motief vir die moord is nog nie heeltemal duidelik nie.

“Sover ons weet, het hy vir ’n ander Suid-Afrikaanse dokter waargeneem wat met verlof is,” sê Chris.

“Die aanvaller, ’n dwelmverslaafde, het glo daar ingekom en pille geëis, maar Tokkie (soos die familie hom noem) het geweier om dit vir hom te gee. Dis toe dat dinge skeefgeloop en hy aangeval is.”

Die Edmonton Journal berig dat Reynolds en sy aanvaller mekaar deur die kliniek geken het, waar Mabiour ’n pasiënt is.

Eric het vroeër gesê dat sy broer juis Kanada toe geëmigreer het om van die misdaad in Suid-Afrika weg te kom.


Meer oor:  Walter Reynolds  |  Kanada
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.