Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Ruimtevaarders oorleef gevaarlike terugkeer na aarde
Nick Hague van Amerika en Aleksei Oftsjinin van Rusland Donderdag kort voor hul lansering. Hulle gesels agter glas met hul families. Foto: Reuters

Die ruimtevaarders wat Donderdag ’n noodlanding moes doen, moes op ’n gevaarlike manier deur die atmosfeer terugkeer.

Die ruimtevaarders Nick Hague van Nasa in Amerika en Aleksei Oftsjinin van Roskosmos in Rusland is om 10:40 (Suid-Afrikaanse tyd) met die Sojoez-MS-10-vuurpyl en -kapsule van die Cosmodrome in Kazakstan gelanseer. Hulle sou by drie ander ruimtevaarders in die Internasionale Ruimtestasie (IRS) aansluit, maar hulle het net 20 minute later weer geland

Nasa sê daar was vroeg in die vlug ’n fout met die vuurpyl se aanjaer.

Die twee mans moes met die kapsule – wat op die punt van die vuurpyl sit – terugkeer in wat beskryf word as ’n “ballistiese terugkeer”. Die kapsule kom met ’n veel skerper hoek in om te land as wat normaalweg die geval is. Die ruimtevaarders oefen in hul opleiding om dit te kan doen as dit nodig sou wees.

Nasa TV het die beheerkamer se kommunikasie teruggespeel. Daarin kan gehoor word die eerste fase verloop glad, maar dan ruk en skud die ruimtetuig skielik geweldig. Kort daarna kom die woorde “failure of booster, failure of booster” en dan “separate” uit die beheerkamer.

Die Sojoez-MS-10-vuurpyl en -kapsule word van die Cosmodrome in Kazakstan gelanseer voordat die kapsule ontkoppel moes word vir ’n noodlanding.Foto: Reuters

Hulle het net ná 11:00 (Suid-Afrikaanse tyd) veilig geland.

Kort ná die landing is daar kontak met die ruimtevaarders gemaak en daar is aankondig hulle het nie seergekry nie.

In 2008 het Joeri Malentsjenko, ’n ruimtevaarder, so ’n ballistiese terugkeer beleef. Hy het dit beskryf asof daar “ ’n olifant op my bors gesit het terwyl ek sukkel om asem te haal”. Dit is omdat die swaartekrag tot 8G kan wees. In Donderdag se terugkeer was die swaartekrag tussen 6G en 7G, sê Nasa se sendingbeheer.

Die kapsule het oos van Dzjezkazgan, Kazakstan, geland. Soek-en-reddingspanne, wat altyd gereed staan met lanserings, is dadelik met helikopters na hulle gestuur. Hulle sou na Baikonoer geneem word en van daar af met ’n Nasa-vliegtuig na Moskou.

Nasa het aangekondig Roskomos, die Russiese ruimte-agentskap, sal nie Donderdag ’n mediakonferensie hou nie, maar hy het reeds met ’n kommissie van ondersoek begin. Nasa gaan ook ondersoek instel.

Dit sou Hague se eerste reis na die IRS gewees het, waar hy ses maande sou vertoef.

Sedert pendeltuie nie meer gebruik word nie, is die Sojoez-MS-10-vuurpyl en -kapsule die enigste manier om by die IRS te kom. Dit het plek vir drie mense en word gelanseer van die Cosmodrome, wat van die Koue-Oorlog dateer.

Dit neem die Sojoez ses uur van lansering totdat hy by die IRS vasmeer. Wanneer ruimtevaarders van die IRS af terugkeer, duur die reis in die kapsule net meer as drie uur. Sodra die kapsule die aarde se atmosfeer binnekom, verminder dit spoed, maar dit is ’n ongemaklike rit. Dit is egter ’n beheerde binnekoms waarin die hoek vooraf bereken word.

Drie valskerms ontplooi, waarna die kapsule klein vuurpyl-enjins aanskakel om spoed te verminder. Dit bly egter ’n harde kennismaking met die aarde.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.