Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Russe stil oor kernduikboot se amperse ‘planeetwye katastrofe’

Hulle het ’n planeetwye katastrofe voorkom, het ’n top-vlootoffisier gesê op die begrafnis van 14 bemanningslede wat verlede week in ’n brand op ’n Russiese kernaangedrewe duikboot dood is.

Kapt. Sergei Pawlof, assistent van die bevelvoerder van die Russiese vloot, het hulle vir hul dapperheid geprys. Hulle is dood terwyl hulle geveg het om te voorkom dat die brand na die res van die duikboot versprei.

’n Vlootsoldaat kniel by die graf van een van die 14 vlootsoldate wat dood is nadat ’n brand in ’n Russiese kernaangedrewe duikboot uitgebreek het.Foto: Getty Images

“Hulle het met hul lewe die lewe van hul makkers gered, die duikboot gered en ’n planeetwye katastrofe voorkom,” het Pawlof volgens die Fontanka-nuusdiens Sondag op die begrafnis gesê.

Dimitri Peskof, die Kremlin se woordvoerder, sê hy weet nie van die opmerkings nie, maar daar was volgens hom geen aanduiding dat die voorval ’n groter bedreiging ingehou het nie.

“Daar was geen probleme met die reaktor nie,” het hy per telefoon gesê.

Rusland het ná drie dae waarin alles doodgeswyg is, erken dat die rampboot “wat navorsing gedoen het” kernaangedrewe is. Die boot was deel van ’n elitegroep wat die diepsee-spesialismagte (Spetsnaz) genoem is, berig The Times. Hulle word onderwatervaarders genoem, na aanleiding van ruimtevaarders, en is hoog gekwalifiseerde personeel met hoë range.

Die krisis op die seebodem is 24 uur lank doodstil deur die Kremlin gehou. Die omstandighede wat die “planeetwye katastrofe” kon veroorsaak het, word steeds geheim gehou.

Die duikboot AS-12, met die bynaam Losjarik – wat volgens Bloomberg ook die naam is van die spesiale geheime projek om onder meer die seebodem te kartografeer – was van kernbelang om Poetin se ambisieuse planne in die Arktiese sirkel waar te maak.

Die Losjarik is soos ’n ondersese laboratorium, gepak met toerusting wat data versamel en gevorderde akoestiese stelsels om op ander lande se duikbote en ondersese kommunikasie te spioeneer, skryf The Times.

Sergei Sjoigoe, minister van verdediging, het in ’n gesprek wat op staatstelevisie uitgesaai is aan pres. Wladimir Poetin gesê die kernreaktor op die duikboot “was heeltemal afgeseël”.

Rusland se ergste vlootramp was in Augustus 2000 toe 118 manskappe in die Koersk-kernkragduikboot dood is toe dit ná ’n ontploffing aan boord na die bodem van die Barentsz-see in die Arktiese sirkel gesink het. Toe is die inligting ook aanvanklik diggehou en die wêreld oor die erns van die saak mislei.

* Die grootste kernongeluk – by Tsjernobil in die Oekraïne in die 1970’s in die ou Sowjet-Unie – is ook aanvanklik vir die Russe en die wêreld stil gehou. Van die ware inligting het eers in die laaste maand in die TV-reeks Chernobyl aan die lig gekom. Dit is steeds op DStv CatchUp te sien. – Bloomberg

Meer oor:  Rusland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.