Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Russe wil glo VSA se konserwatiewes op dwaalspoor lei
Foto ter illustrasie

Microsoft het bekend gemaak dat hy verlede week Russiese kuberkrakers se planne in die wiele gery het deur beheer van vals webwerwe oor te neem. Die krakers het glo jag gemaak op twee konserwatiewe organisasies in Amerika – oënskynlik met November se middeltermynverkiesing in gedagte.

Hulle het die webwerwe van die International Republican Institute en die Hudson-stigting gekloon. Gebruikers is na hul vals webwerwe herlei waar hulle vir hul aanmeldname en wagwoorde gevra is. Dié soort diefstal van iemand se digitale besonderhede staan as “spear fishing” bekend.

Volgens Microsoft het hy in totaal ses webadresse oorgeneem wat deur die groepe genaamd Strontium, Fancy Bear en APT28 geskep is.

Die groepe is vermoedelik deur die Russiese regering op die been gebring. Hulle het ook die webwerwe van die Amerikaanse Senaat en Microsoft se eie Office-rugsteunwebwerf geteiken. Rusland het nog nie op die aantygings gereageer nie.

“Ons is bekommerd dat hierdie en ander pogings veiligheidsbedreigings vir ’n al groter verskeidenheid van groepe inhou wat bande met albei Amerikaanse politieke partye het,” het Microsoft Maandag in ’n bloginskrywing gesê.

Talle bekende Republikeine, soos senator John McCain, behoort aan die International Republican Institute. Hy het pres. Donald Trump aangevat oor sy interaksie met Rusland en het dié land se menseregterekord gekritiseer.

“Dit gaan oor die ontwrigting van enige groep wat Poetin se Rusland uitdaag.”

“Die Russe loods aanvalle uit eiebelang,” het Eric Rosenbach, direkteur van die projek Defending Digital Democracy van die Harvard-universiteit, aan die New York Times gesê.

“Dit gaan oor die ontwrigting van enige groep wat Poetin se Rusland uitdaag.”

Facebook het verlede maand gesê hy het ook al 32 blaaie en vals rekeninge gesluit in ’n poging om buitelandse inmenging in die November-verkiesing te kortwiek.

Daar bestaan reeds hoogspanning tussen die twee lande weens Rusland se digitale spioenasiebedrywighede. ’n Federale grootjurie het 12 Russiese spioene op aanklag van kuberkrakery aangekla oor hul vermeende inmenging by die 2016-presidentsverkiesing. Die spesiale ondersoeker Robert Mueller is tans besig met ’n ondersoek daarna asook na die moontlikheid dat Trump met hulle saamgewerk het.

Rusland het intussen Dinsdag ’n wapenooreenkoms met die Sentraal Afrikaanse Republiek gesluit.

Hy lewer reeds ligte wapens aan die SAR en 175 militêre instrukteurs is al daar ontplooi.
Drie Russiese onafhanklike verslaggewers is verlede maan in die Afrika-land dood toe hulle ’n ondersoek gaan doen het na die betrokkenheid van huursoldate uit Rusland by die konflik in die SAR.  - Reuters
Meer oor:  Verkiesing  |  Vsa  |  Kuberkrakers  |  Rusland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.