Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
SA bemiddel tussen Saoedi’s en Iran

Suid-Afrika tree as tussenganger tussen Saoedi-Arabië en Iran op om die konflik met Jemen te help oplos.

Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het Donderdag in Pretoria op haar maandelikse inligtingsessie aan die media gesê Saoedi-Arabië het Suid-Afrika ook gevra om met Iran te praat en dié land te versoek om nie die mense van Jemen se menseregte te skend nie.

Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Donderdagmiddag op ’n mediakonferensie in Pretoria. Foto: Sarel van der Walt

Iran steun die Houthi-rebelle in Jemen.

“Ons het met die Iran vergader en terugvoer van hulle gekry. In hierdie stadium kan ek nie meer daaroor sê nie.

“Ons wil deel wees van die oplossing,” sê die minister.

Rapport het vroeër vanjaar berig Suid-Afrikaans vervaardigde mortiere is in ’n aanval in Jemen gebruik waarin meer as 150 mense dood en beseer is – onder hulle talle kinders.

Toe die minister gevra is oor ’n moontlike transaksie tussen Saoedi-Arabië, ’n bondgenoot van die VSA, en die Suid-Afrikaanse wapenvervaardiger Denel, het sy gesê die komitee wat besluit of Suid-Afrikaanse wapens aan ’n betrokke land verkoop mag word (die NCACC), vergader gereeld en is funksioneel.

Amptenare van die departemente van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) en staatsveiligheid lig die komitee gewoonlik in oor die politieke situasie in die land wat wapens wil koop.

Jeff Radebe, minister van energie, is voorsitter van dié komitee.

“Ons verkoop nie wapens aan lande wanneer ons geadviseer word om dit nie te doen nie,” sê Sisulu.

Suid-Afrika sal nie wapens verkoop aan lande wat mense se menseregte skend nie.

Luwellyn Landers, een van Sisulu se twee adjunkministers, sê die kriteria waarvolgens wapens aan ’n land verkoop mag word, is baie duidelik.

Die gesprekke oor die moontlike aankoop van Suid-Afrikaanse wapentuig het begin toe pres. Cyril Ramaphosa in Julie in Saoedi-Arabië was, het die webtuiste Defenceweb vroeër berig.

Ons verkoop nie wapens aan lande wanneer ons geadviseer word om dit nie te doen nie.

Saoedi-Arabië word van menseregteskendings teen die mense van Jemen beskuldig.

Twee weke gelede is 22 kinders in Jemen in ’n lugaanval van die Saoedi-koalisie dood.

Saoedi-Arabië word ook daarvan verdink dat hy verantwoordelik was vir die verdwyning in Turkye van Jamal Khashoggi, ’n joernalis van Saoedi-Arabië, wat krities jeens sy regering was. Daar word vermoed dat Khashoggi in Saoedi-Arabië se konsulaat in Turkye vermoor is.

Die Saoedi’s se verdedigingsbegroting ($69,4 miljard) was in 2017 op twee na die grootste ter wêreld.

Meer oor:  Lindiwe Sisulu  |  Pretoria  |  Jemen  |  Saoedi-Arabië  |  Iran
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.