Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
SA burger dood in Nairobi-terreur

’n Suid-Afrikaner, Luke Potter, met Suid-Afrikaanse en Britse burgerskap, is een van die 14 slagoffers van die terreuraanval in Nairobi.

Hy was ’n natuurliefhebber wat onlangs van Brittanje na Nairobi verhuis het.

Luke Potter
Luke Potter

Potter (40) was die afgelope drie jaar die programdirekteur in Afrika vir die Gatsby-liefdadigheidstigting.

Potter het die afgelope tien jaar vir die stigting gewerk. Hy het die laaste drie jaar uit Oos-Afrika gewerk.

“Ons is diep geraak en hartseer om te bevestig dat Luke Potter in die onlangse veiligheidsvoorval in Nairobi oorlede is,” het die Gatsby-stigting Woensdag in ’n verklaring gesê.

Potter was oorspronklik van Johannesburg.

Een van die ander oorledenes is Jason Spindler, ’n Amerikaner. Spindler, wat die 9/11-terreuraanvalle in New York oorleef het, is ook Dinsdag in die aanval op die DusitD2-hotelkompleks in Nairobi, Kenia, dood.

Reuters berig die Amerikaner, wat ook in die Amerikaanse vredeskorps in Peru gedien het, en twee van sy Keniaanse vriende tel onder die minstens 14 mense wat in die aanval deur die militante groep Al-Sjabaab dood is.

Netwerk24 het vroeër reeds berig dat Spindler en 11 Keniane, waarvan twee nog nie geïdentifiseer is nie, onder die slagoffers tel. Die Rooi Kruis dink egter soveel as 24 mense is moontlik in die aanval dood.

Reuters het Woensdag Spindler se Keniaanse vriende as Abdalla Dahir en Feisal Ahmed van die konsultasiefirma Adam Smith International (ASI) geïdentifiseer.

Albei het aan ekonomiese programme gewerk wat daarop gemik is om die lewensgehalte in Somalië te probeer verbeter.

Ahmed se weduwee is sewe maande swanger. Vriende en familie beskryf hom as ’n charismatiese grapjas wat onafskeidbaar van sy vriend Dahir was.

’n Vrou huil langs die lykshuis in Chimore, Nairobi, nadat sy ’n liggaam gaan uitken het. Foto: Reuters

Dahir beskryf homself op LinkedIn as iemand wat passievol is daaroor om die stories van kwesbare mense en veral die stemlose slagoffers van geweld met die wêreld te deel om mense op te voed oor die skadelike gevolge van oorlog.

“Hulle was goeie vriende,” sê Abdullahi Keinan, Ahmed se swaer.

“Hulle was so na aan mekaar dat mense gesê het hulle sal saam doodgaan.”

Dinsdag se aanval het met ’n ontploffing en geweerskote begin, waarna paniekbevange mense in alle rigtings uiteengespat het.

Feisal Ahmed Rashid is Woensdag ter ruste gelê in die Langata-begrafplaas in Nairobi. Foto: Reuters

Volgens die BBC het vier verdagtes op die hotel toegeslaan en bomme na voertuie geslinger. Een van die verdagtes het homself glo opgeblaas.

Daar was berigte dat die aanval Woensdag nog voortgeduur het, nadat nog ’n plofslag en geweerskote gehoor is.

Pres. Uhuru Kenyatta van Kenia het intussen aangekondig dat al die aanvallers deur veiligheidsmagte “geëlimineer” is.

Die DusitD2-hotelkompleks nadat die veiligheidsmagte die aanvallers doodgeskiet het wat Dinsdagmiddag die kompleks aangeval het.Foto: Reuters
Keniaanse polisiemanne stap weg van die hotelkompleks ná voltooiing van die operasie. Foto: Reuters

Groot getalle veiligheidsmagte het Dinsdag sowat 700 mense, insluitend die dogter van die voormalige wetmaker Boni Khalwale, uit die hotel ontruim.

’n Joernalis en kameraman het tien uur lank in ’n toilethokkie weggekruip voordat hulle uiteindelik gered is.

Die joernalis het deurentyd op ’n WhatsApp-groep aan kollegas gesê hoe bang hulle is.

Volgens Reuters was die meeste van die oorledenes by die Secret Garden-restaurant toe die aanval begin het. Sommige werknemers en gaste het onder tafels geskuil terwyl die skietgeveg plaasgevind het.

Honderde buitelandse diplomate, noodlenigingswerkers en sakelui woon in Nairobi en maatskappye soos Colgate Palmolive, Reckitt Benckiser, Pernod Ricard, Dow Chemical en SAP het kantore in die DusitD2. – Reuters

Meer oor:  Nairobi  |  Terreuraanval  |  Sterfgeval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.