Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
SA dokter in Kanada ná hameraanval dood

’n Dokter van Suid-Afrika wat in Kanada woon en werk, is Maandag dood nadat ’n man hom in sy spreekkamer met ’n hamer aangeval het.

Die Village Mall se instap-kliniek in Red Deer, Kanada, waar ’n Suid-Afrikaanse dokter in sy spreekkamer met ’n hamer aangeval is. Foto: Twitter/CTV Edmonton

Die dokter, wat nog nie geïdentifiseer mag word totdat al sy naasbestaandes in kennis gestel is nie, is in sy spreekkamer in ’n instap-kliniek in Red Deer, Alberta, met ’n hamer oor die kop geslaan. Hy is in die hospitaal dood.

Volgens die Royal Canadian Mounted Police (RCMP) is die aanvaller op die toneel in hegtenis geneem en geen ander verdagtes word gesoek nie, berig CBC News. Die motief vir die aanval is nog onbekend.

Anina Mullin, wat tydens die voorval by die kliniek was, sê dat sy saam met haar 13-jarige dogter vir die dokter gewag het toe sy skielik gille uit die spreekkamer hoor.

“Ons het die dokter hoor skree: ‘Help my, help my. Bel 911.’ Hy het angsbevange geklink,” sê sy.

Mullin sê sy het ’n gekap gehoor en dit het geklink asof die dokter probeer wegkom van die aanvaller.

Die ontvangsdame het twee manspasiënte se hulp gevra, maar die deur is in hul gesigte toegeklap. Hulle is toe terug na die ontvangs.

Mullin en haar dogter het kort daarna uit die kliniek gehardloop en hulle het in haar motor gaan skuil.

Die twee mans, wat die dokter probeer help het, het by die kliniek se deure gestaan en dit toe gehou om te keer dat die aanvaller ontsnap, berig Calgary Sun.

Die polisie, paramedici en die brandweer het ’n paar minute daarna by die kliniek opgedaag en die mense buite gevra om terug te staan.

“Een van die polisielede het met sy geweer na die kliniek gestap en sy kop by die deur ingesteek. Ek het hom hoor skree: ‘Sit dit neer of ek skiet,’ ” sê Mullin.

Volgens haar het die persoon ’n bloedbevlekte hamer na die polisielid gegooi. Sy het gesien hoe dit by die deur uitvlieg en op die sementblad voor die kliniek val. Sy het ook gehoor hoe ’n polisielid die man beveel om ’n kapmes neer te sit voordat hy en nog tien polisielede in die kliniek ingehardloop het.

Die polisie het die gebou verlaat met ’n man wat Mullins as “groot” beskryf het, berig Edmonton Journal. Hy het ’n grys baadjie en grys broek gedra. Hy het ook ’n gesigmasker gedra wat tot onder sy ken afgetrek was.

“Hy het ’n glimlag op sy gesig gehad, asof hy nie ’n omgee oor wat pas gebeur het nie,” sê sy.

Hy het ’n glimlag op sy gesig gehad, asof hy nie ’n omgee oor wat pas gebeur het nie.

Die paramedici het by die kliniek ingegaan en kort daarna is die bebloede dokter op ’n draagbaar uitgebring.

Tara Veer, burgemeester van Red Deer, het die voorval bevestig en sê die gemeenskap is in skok en in rou gedompel.

“Hiermee betuig ek my medelye aan die slagoffer se familie, vriende en geliefdes, en aan die mediese gemeenskap in ons stad.”

Veer sê hulle is bekommerd oor die welstand van ooggetuies, kliniekpersoneel en ander wat in die omgewing was.

Supt. Gerald Grobmeier, bevelvoerder van RCMP in Red Deer, sê ’n polisielid is deur die verdagte gekonfronteer en het ligte beserings opgedoen.

Grobmeier het die aanval as wreed beskryf en sê dit was ’n geïsoleerde voorval.

Die Alberta RCMP-eenheid vir ernstige misdade is ingebring om die voorval te ondersoek.


Meer oor:  Red Deer  |  Kanada  |  Alberta
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.