Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
SA firma wil lig laat skyn by Notre Dame

Hulle ontwerp is ’n “baken van hoop” en hoe meer stemme dit kry, hoe groter is die kans dat ’n Suid-Afrikaanse argiteksfirma ’n sê sal hê in die herbou van die Notre Dame-katedraal in Frankryk.

Marais 4 Architects bestempel die straal lig wat by die hooftoring van hulle dakontwerp vir die Notre Dame-katedraal uitstraal as ’n baken van hoop.

Die Marais-familie het saam met duisende getreur toe ’n verwoestende brand die ikoniese Notre Dame-katedraal in Parys op 15 April getref het, maar nou is dié argitekte wat deel is van ’n kompetisie om die katedraal te herbou, oorstelp van vreugde.

Marius Marais, ’n argitek by Marais 4 Architects in Midrand, sê hy kan skaars glo hulle ontwerp om die katedraal se dak en hooftoring te herbou, is onder die 224 ontwerpe van regoor die wêreld in dié kompetisie.

Die GoArchitect-organisasie het kort na die brand ’n wêreldwye ope kompetisie aangekondig vir ontwerpe om die dak en hooftoring van die Notre Dame te vervang.

“Ons kan dit nie oorlaat aan die bekende firmas en geslote vergaderings nie. Die Notre Dame is ’n katedraal vir die mense en sy toekoms moet daardeur beïnvloed word.” GoArchitects sê hoewel hy nie verbonde is aan die Rooms-Katolieke Kerk of die Franse regering nie, hy sy bes gaan doen om aan die besluitnemers te bewys dat ontwerpers van regoor die wêreld ’n kans verdien om met die herbou bemoeid te wees.

’n Strook lig sal saans by die katedraal se hooftoring uitstraal, wat die hele stad sal kan sien. ’n Baken van hoop.

Marais sê dit is ’n eer om die land se vlag op die vlak hoog te kan waai.

“Ek hoop ons eenvoudige ontwerp wat die karakter van die historiese gebou behou en ook energiebesparend is, is die begin van ’n nuwe era,” sê Marais.

Marais sê die familie is verknog aan die Notre Dame, een van hulle gunsteling katedrale om te besoek.

“Die kompetisie is daarom baie spesiaal. Die nuus oor die brand het ons geskok en die skade was kommerwekkend. “My seun, Ruben, wat ook volgende jaar argitektuur gaan studeer, het opgewonde vir ons van dié kompetisie vertel.

“Hy het geweet ons kan die geleentheid nie misloop nie en het dadelik ingeskryf.”

Marais 4 Architects, wat al meer as 30 jaar in bedryf is, se ontwerpe is regoor Gauteng en die land te sien:

Van vulstasies en winkelsentrums tot tienverdiepingwoonstelblokke. Nou is Marais en sy argitek-pa, Barry en broer Eben gereed om hul idees en ontwerpe wêreldwyd te deel.

Marais 4 Architects se dakontwerp sluit glas, sonpanele en staaldakstrukture in wat meer ekonomies is.

“Die katedraal is beslis ’n stap in die regte rigting om wêreldwyd erkenning te kry,” sê Marais.

In Marais 4 Architects se ontwerp speel sonligenergie ’n groot rol.

“Ons het die dak vervang met ’n liggewig glas wat meer sonlig sal deurlaat.”

In sy inskrywing sê die firma dit sal tot ’n nuwe ervaring van die kerk op ’n fisieke en geestelike vlak lei.

Energiebesparende ligte sal in die aand sigbaar wees danksy sonpanele in die dak en LED-beligting binne die katedraal.

“ ’n Strook lig sal saans by die katedraal se hooftoring uitstraal, wat die hele stad sal kan sien. ’n Baken van hoop.”

Marais se pa, Barry, sê die idee is om ’n moderner effek aan die katedraal te verleen. “Ons werk met die huidige struktuur, maar neem die kerk na ’n nuwe moderne era deur glas met staaldakstrukture te gebruik wat ook meer ekonomies is, as om die oorspronklike houtbalke te vervang.”

Die publiek kan tot op 31 Julie vir hul gunstelingontwerp stem. Marais-4 se inskrywingsnommer is 10193. Klik hiér om vir hulle ontwerp te stem.

* Nóg ’n Suid-Afrikaanse ontwerp is dié van Grant Bicknell, ’n argitek by Theunissen Jankowitz Argitekte in Pretoria. Netwerk24 het vroeër oor sy ontwerp, inskrywingsnommer 10262, berig.

Meer oor:  Frankryk  |  Midrand  |  Pretoria  |  Notre Dame
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.