Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
SA gesinne ‘in twee geskeur’ weens reisverbod
emigreer
Christene en Darryn Mitchell in Januarie voordat hy solank na Nieu-Seeland vertrek het.

Suid-Afrikaanse gesinne is letterlik in twee geskeur sedert lande soos Australië en Nieu-Seeland verlede week Vrydag hul landsgrense vir “nie-inwoners” gesluit het.

Sommige gesinslede was reeds daar en ander se vliegkaartjies was gekoop, huise hier verkoop, werk bedank, en tasse gepak.

Toe klap die twee lande waarheen verskeie Suid-Afrikaners sou emigreer se deure toe weens die Covid-19-pandemie.

“Daar was die Donderdagaand (19 Maart) wat ons gehoor het die grense sluit die Vrydagaand, baie van ons wat op sopnat gehuilde kussings gaan slaap het. Die wete dat jy nie met jou geliefdes kan herenig nie . . .” sê Christene Mitchell.

Haar man het reeds vroeër vanjaar na Nieu-Seeland verhuis en daar begin werk. Sy en hul twee kinders, onderskeidelik twee en ses jaar oud, sou in Mei volg.

“Ons het nog gewag vir ons een kind se visum. Intussen was alles reg; ek het my droomwerk gelos, die medies is gekanselleer, my oudste is uit die skool gehaal.

Christene
Eben Boyder saam met sy vrou, Lizanne, en hul seuns die aand voordat hy na Nieu-Seeland sou vlieg Voor is Danius, regs Daniel en links is Demarco.

“Toe hoor ons eers net dat van die vlugte soontoe gestop gaan word. Ons het my en die kinders se vlug probeer vervroeg. Toe sê die emigrasie-agent ons moet net wag tot 20 Maart en hoor of ’n lock-down beplan word.

“Alles was op hold, ons bly by my ma en leef uit ons tasse, want ons is mos enige oomblik op pad . . . En toe hoor ons die Donderdag dat die grense die Vrydag toemaak,” sê Mitchell, steeds effens verwese.

In die agtergrond vra haar dogtertjie of dit Pappa op die foon is.

“Gaan ons nou na hom toe?” vra sy.

Mitchell troos die kind en vertel dan verder: “Ons gesin is in twee geskeur. Ek het gevoel ek kry nie asem nie toe ek hoor Nieu-Seeland se grense sluit.

Ons gesin is in twee geskeur. Ek het gevoel ek kry nie asem nie toe ek hoor Nieu-Seeland se grense sluit.

Mat onder voete uit:

Vir Eben Boyder het dit gevoel asof ’n mat onder sy voete uitgepluk is.

Hy sou daardie einste Vrydagoggend 20 Maart Nieu-Seeland toe vlieg. Sy vrou en drie seuntjies sou die afgelope Sondag volg.

“Ek is verlede jaar in September afgelê, so ek was sedertdien sonder inkomste. Ek het hoeveel CV’s in Suid-Afrika uitgestuur, sonder sukses, en toe kry ek werk in Nieu-Seeland. En blyplek.

“Ons het alles verkoop. My vrou het haar werk bedank omdat ons op pad was. Ons het almal gegroet – dis reeds ’n baie emosionele ding om te emigreer. En Donderdagaand 19 Maart hoor ons dat ons nie in Nieu-Seeland sal kan inkom nie,” sê Boyder.

Nou moet hulle oorleef op die geld wat vir hul emigrasie gebruik sou word.

Ons het alles verkoop. My vrou het haar werk bedank omdat ons op pad was. Ons het almal gegroet . . .

Op Facebook-blaaie vir Suid-Afrikaners wat na Australië en Nieu-Seeland emigreer, het hordes mense dieselfde pyn verbaliseer met woorde soos “skok”, “ongeloof”, en vrae en nog vrae aan emigrasie-agente.

Agente verduidelik:

Terugskouend besef emigrasie-agente dat die eerste tekens van Covid-19 se aanslag op mense se emigrasie-planne reeds daar was toe die twee lande se eerste ministers aangekondig het dat alle Australiërs en Nieu-Seelanders dadelik moet terugkeer.

Joey Barnard, ’n lid van die Migration Institute of Australia en van The Migration Alliance, twee verenigings vir emigrasie-agente, sê ’n paar dae later is aangekondig dat die landsgrense op Vrydag 20 Maart om 21:00 Australiese tyd vir “nie-inwoners” gaan sluit.

“Deel van die chaos was dat die term ‘nie-inwoner’ nie deur emigrasie-wetgewing gedefinieer word nie, maar verskillende betekenisse in verskillende omstandighede het.

“Agente het geskarrel om duidelikheid daaroor te kry; wie kon inkom en wie nie. Ons verenigings het die eerste minister se kantoor gekontak, wat toe verduidelik het dat net Australiese burgers, permanente inwoners, hul eggenote en afhanklikes van die verbod kwytgeskeld word,” sê Barnard.

Sy administreer twee Facebook-bladsye vir Suid-Afrikaners wat wil emigreer, die een met 44 000 lede en die ander met 57 000 lede. Hul agente-ondersteuningsnetwerk, MARA, met byna 2 000 lede, het begin definisies uitvind, die gevolge vir Suid-Afrikaners wat op pad was, sowel as vir hul Australiese werkgewers, “alles om antwoorde te kry”.

Hulle het uiteindelik duidelikheid gekry oor watter soort visums mense moet hê om steeds te kan inkom, maar, sê Barnard, toe is daar ’n stormloop vir die laaste sitplekke op vliegtuie voordat die landsgrense sou toemaak.

“Uiteindelik is sommige mense – wat die regte soort visums gehad het – deur lugdienste aangesê hulle kan nie vlieg nie. Vliegtuigkaartjies het ook skielik drie keer duurder geword,” sê sy.

Uiteindelik is sommige mense – wat die regte soort visums gehad het – deur lugdienste aangesê hulle kan nie vlieg nie. Vliegtuigkaartjies het ook skielik drie keer duurder geword.

Sy ken al die verhale van mense wat op die punt was van emigrasie en nie betyds uit Suid-Afrika kon kom vir die Australiese grens-spertyd nie.

“Hier is families wat van mekaar geskei is, met een in Australië en die res gestrand in Suid-Afrika. Mense is paniekbevange – en met goeie rede.

“Een voorbeeld is ’n vierjarige kind wat kan teruggaan (na Australië) as die kind van ’n Australiese burger, maar die ouma sou die kind vergesel. Die ouma is egter nie ’n voog nie, en besoekers word nie toegelaat nie.”

Daar word egter in uitsonderlike gevalle voorsiening gemaak vir spesiale toestemming, maar dan moet daar nog plek op ’n vliegtuig vir sulke mense gevind word.

“Emigrasie-agente het ’n enorme taak om antwoorde en duidelikheid te vind vir mense,” sê Barnard.

’n Immigrasie-mentor van Nieu-Seeland, wat weens die sensitiwiteit van sekere gevalle waarmee sy werk, nie geïdentifiseer wil word nie, sê sedert verlede week word net Nieu-Seelandse burgers en permanente inwoners terug in die land toegelaat.

“Daar was Suid-Afrikaanse gesinne wat op die punt was om vliegtuie te bestyg, toe hul weggewys is. Hier het talle hoof-visumhouers vir hul gesinslede gewag om met hulle herenig te word.

“Nou hang alles in die lug,” sê sy.

Daar was Suid-Afrikaanse gesinne wat op die punt was om vliegtuie te bestyg, toe hul weggewys is.

Meer oor:  Koronavirus  |  Reisverbod  |  Covid-19  |  Emigrasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.