Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Slagoffer geïdentifiseer ná SA man glo in Alaska moord pleeg

Die Suid-Afrikaner Brian Steven Smith (48), wat in Anchorage in die Amerikaanse deelstaat Alaska vir moord aangekeer is, se beweerde slagoffer se identiteit is Vrydag om 02:00 (SA tyd) bekendgemaak.

Die polisie in Anchorage het die slagoffer as Kathleen J. Henry (30) geïdentifiseer en sê haar familielede is reeds in kennis gestel.

Geen verdere inligting oor haar of haar verbintenis met Smith is bekend gemaak nie.

Henry is oorspronklik van Eek, ’n afgeleë kusdorp in die weste van Alaska, waar hoofsaaklik inheemse burgers woon. Haar laaste Facebook-inskrywing was op 29 Augustus, waarin sy sê sy is ’n “tawwe” Alaska-meisie.

Sy het met trots gesê sy het haar hoërskooldiploma in 2012 op 23-jarige ouderdom verwerf terwyl sy gevangenisstraf uitgedien het in die Hiland Mountain-tronk vir vroue in Anchorage.

Dit is nie bekend waarvoor sy tronkstraf uitgedien het nie. 

 Kathleen Jo Henry
Kathleen Jo Henry

Smith, wat sedert 2014 in Anchorage woon en met ’n Amerikaner getroud is, se beweerde misdaad het aan die lig gekom nadat ’n vrou ’n geheuekaart met video’s en foto’s van ’n moord in ’n straat in die Fairview-woonbuurt in Anchorage opgetel het.

Die geheuekaart was glo gemerk as “Moord in Marriott-middestad”.

Die polisie sê dié bekommerde inwoner het hulle in kennis gestel van die geheuekaart, waarna hulle Smith glo op die video’s en foto’s herken het weens ’n ander saak teen hom.

Hulle wou nie oor dié saak uitwei nie.

Die video’s en foto’s wat op die geheuekaart gevind is, toon glo hoe Smith die vrou vermoor.

Die polisie vermoed die moord is in die eerste week van September gepleeg, hoewel die oorskot van ’n vrou, wat die polisie vermoed die vrou op die video en foto's is, eers op 2 Oktober ontdek is.

Soos vroeër berig het die polisie 39 foto’s en 12 video’s op die geheuekaart gevind.

’n Kaal vrou is in die video’s te sien waar sy op die vloer van ’n hotelkamer lê en geslaan word. Die vrou is glo ook gewurg en daar kan gesien word hoe daar op haar keel getrap word.

Brian Steven Smith (48), voorheen van Queenstown in die Oos-Kaap, het Woensdag in die hof in Anchorage, Alaska, op aanklag van moord verskyn. Foto: AP Images

Die vrou het luidens ’n verklaring probeer terugbaklei. Van die foto’s en video’s wys hoe haar lyk in ’n wit laken toegedraai is en na ’n bakkie in die parkeerterrein geneem word.

Die polisie het ’n lasbrief op 7 Oktober bekom om Smith in hegtenis te neem, waarna hulle hom Dinsdag om 15:30 op die Ted Stevens-lughawe in Anchorage in hegtenis geneem het.

Smith het op 31 Maart 2014 na Anchorage verhuis en ’n maand daarna aan Stephanie Bissland, ’n voormalige staatsamptenaar wat ook ’n musikant is, verloof geraak.

Volgens Smith se Facebook-profiel is hy ’n oudleerling van Queen’s College in Queenstown in die Oos-Kaap.

Smith het Woensdag op ’n aanklag van moord in ’n hof in Anchorage verskyn.

Meer oor:  Anchorage  |  Alaska  |  Moord  |  Brian Steven Smith
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.