Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
SA man in hof in Alaska ná video's wys hoe vrou sterf

’n Geheuekaart wat ’n vrou in Anchorage in Alaska, Amerika, opgetel het waarop daar ’n video van ’n moord is, het gelei tot die inhegtenisneming van ’n Suid-Afrikaner wat sedert 2014 daar woon.

Die Anchorage-polisie het op 30 September ’n oproep ontvang waarin iemand beweer sy het ’n geheuekaart opgetel met bewyse van ’n moord daarop.

Die Suid-Afrikaner Brian Steven Smith is in Anchorage in die Amerikaanse deelstaat Alaska in hegtenis geneem. Foto: AP Images

Brian Steven Smith (48), ’n Suid-Afrikaner van Queenstown in die Oos-Kaap, is glo op dié video te sien waar hy glo besig is om ’n vrou te vermoor.

Smith het Woensdag op ’n klag van moord in ’n hof in Anchorage verskyn.

Die Anchorage-polisie sê in ’n verklaring ’n bekommerde inwoner het hulle gebel en gesê dat sy die geheuekaart in die Fairview-buurt in die straat opgetel het.

“Daar was verskeie video’s wat die aanranding en moord van ’n vrou uitbeeld. Speurders wat moordsake ondersoek, is in kennis gestel, waarna ’n ondersoek begin is,” sê die polisie.

Die polisie sê hulle is op 2 Oktober om 09:15 na die Seward-hoofweg uitgeroep waar ’n mens se oorskot naby die pad gevind is.

“Die polisie het intussen vasgestel dat die moord in die eerste week van September in Anchorage gepleeg is. Hulle het die 48-jarige Smith as ’n verdagte geïdentifiseer. Die polisie glo ook dat die oorskot wat gevind is dié van die vrou in die video is,” lui die polisieverklaring.

Die polisie het op 7 Oktober ’n lasbrief vir Smith se inhegtenisneming bekom en hom vandeesweek Dinsdag om 15:30 op die Ted Stevens-lughawe in Anchorage in hegtenis geneem.

Die polisie werk saam met patoloë om die slagoffer se identiteit vas te stel, asook hoe sy dood is. Die polisie sal eers die slagoffer se naam bekend maak wanneer hulle haar identiteit bevestig en haar familie in kennis gestel het.

Die polisie het ’n vrou se oorskot langs die hoofweg gevind. Foto: AP Images

Smith het op 31 Maart 2014 na Anchorage verhuis, en ’n maand daarna aan Stephanie Bissland, ’n voormalige staatsamptenaar in die stad, verloof geraak.

Bissland is volgens haar webtuiste ’n musikant.

Luidens Smith se Facebook-profiel is hy ’n oudleerling van die seunskool Queen’s College in Queenstown in die Oos-Kaap. 

Anchorage Daily News berig die polisie het Smith herken omdat daar ook ’n ander saak teen hom is, maar wou nie oor dié saak uitbrei nie.

Volgens die verklaring wat die vrou afgelê het is die geheuekaart gemerk “Moord in Marriott-middestad”.

Daar was 39 foto’s en 12 video’s op die geheuekaart wat glo die hele moord uitbeeld. 

’n Kaal vrou is glo in die video’s te sien waar sy op die vloer van ’n hotelkamer lê en geslaan word. Die vrou is glo ook gewurg en daar kan gesien word hoe daar op haar keel getrap word.

Die vrou het luidens die verklaring probeer terugbaklei. Van die foto’s of video's wys hoe haar lyk in ’n wit laken toegedraai is en na ’n bakkie in die parkeerterrein geneem word. 

Die foto’s is glo in die vroeë oggendure van 4 September geneem. Die laaste foto is glo op 6 September geneem. Dié foto wys waar die vrou se lyk in die bakkie lê.



Meer oor:  Brian Steven Smith  |  Alaska  |  Anchorage  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.