Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
SA Oscar-wenner takel Bush, Blair

Dit was sy Suid-Afrikaansheid wat Gavin Hood aangetrek het na dié storie oor ’n fluitjieblaser en die Irak-oorlog, skryf Leon van Nierop.

Keira Knightley en Gavin Hood op die stel van Official Secrets. Foto: Empire Entertainment Africa

’n Mens hoor nog die lekker Suid-Afrikaanse aksent van die televisiereeks The Game, waarin hy destyds gespeel het, in Gavin Hood se stem.

Hy praat met my uit Los Angeles. Die Oscar-bekroonde regisseur is steeds plat op die aarde en sonder aansittery. Ons praat oor sy jongste rolprent, Official Secrets met Keira Knightley, wat Vrydag in Suid-Afrika begin wys het.

Die rolprent is tydig: Dit gaan oor fluitjieblasers in ’n tyd wanneer al hoe meer mense na vore tree wat nie net praat oor agterbakse politieke swendelary en oëverblindery nie, maar ook oor sek­suele en emosionele teistering.

Vir Official Secrets het Hood deeglike navorsing gedoen oor ’n doodgewone vrou, Katharine Gun, wat ’n memo na die pers gestuur het waarin die samewerking tussen Brittanje se destydse premier, Tony Blair, en die voormalige Amerikaanse president George W. Bush aan die lig gekom het. Hier het geblyk ’n sameswering te wees om ’n oorlog in Irak te regverdig deur suggesties dat kleiner lande gemanipuleer moet word om vir die oorlog te stem, veral nadat daar vermoed is dat Irak “wapens van massavernietiging” sou versteek het.

Selfs nadat die inligting in die pers uitgelek het, het Bush Irak steeds binnegeval. Gun is in hegtenis geneem omdat sy die Wet op Amptelike Geheime oortree het deur vertroulike inligting aan die pers te gee. Die prent kyk na die gevolge van haar fluitjieblasery.

‘Sy het besef dat sy haar huwelik met haar optrede in gevaar stel.’

“Vir my gaan Official Secrets veral oor lojaliteit,” sê Hood. “Hierdie dapper maar doodgewone vrou moes verskeie komplekse keuses maak.

“Sy moes kies tussen lojaliteite. Teenoor haarself en dit waarin sy geglo het, en sy moes ook besin oor haar lojaliteit teenoor haar land en sy mense. En sy het besef dat sy haar huwelik met haar optrede in gevaar gestel. Haar persoonlike veiligheid is selfs bedreig.”

Al hierdie temas word op onderspeelde en onselfbewuste manier deur Hood oorgedra. Op ’n vraag hoekom sy styl so op die man af is, sê hy: “Ek wou nie truuks gebruik soos lae kameraskote en tegnieke wat die aandag aftrek van die feite nie. Dit was die inspirerende storie, die manier waarop Keira voor haar uitgestaar het wanneer sy besluite moes neem, en die uitdrukking in haar oë wanneer sy besef het wat die gevolge van haar besluite is, wat my gelei het.”

Knightley het feitlik sonder grimering gespeel, merk ek op. Gavin lag. “Dit was vir haar wonderlik om vir ’n verandering nie in ’n korset ingegordel te wees nie. Dit was bevrydend om ’n vrou met sterk beginsels te speel wat haar as aktrise uitgedaag het.”

Dit was sy Suid-Afrikaansheid wat hom aangetrek het na dié storie – “daardie emosionele grond en my wortels wat steeds in Suid-Afrika is”.

“Ek worstel steeds met vrae soos: Wat is reg en wat is verkeerd? Wat is eties en wat nie? Ek word aangetrek deur stories wat die gehoor na moeilike plekke neem waar die antwoorde nie altyd voor die hand liggend is nie.

“Ek word opgewonde oor draaiboeke wat handel oor wat verkeerd is, en om dit dan te ontmasker.”

Hy sê dit is glad nie buite die kwessie dat hy weer in Suid-Afrika sal verfilm nie – sy Helen Mirren-fliek Eye in the Sky (2015) is feitlik geheel en al in Suid-Afrika verfilm, al het dit nie hier afgespeel nie. “Wanneer die regte draaiboek hom voordoen wat ongemaklike vrae vra wat indringende antwoorde verg, sal ek belangstel,” erken hy.

Ek herinner Gavin aan sy eerste kortfilm, The Storekeeper (1998), nog voor A Reasonable Man (1999) en natuurlik sy Oscar vir Tsotsi (2005). Daar was geen dialoog in die rolprent nie, wat gegaan het oor ’n man op die platteland wie se winkel beroof is, toe besluit hy om die reg in eie hande te neem.

“Baie mense sê dit is steeds my beste rolprent,” lag hy. “My hart was volkome daarin.”

Ek waag nog ’n vraag: “Jy sê Official Secrets is volkome waar en juis, maar wat van die bekende gesegde: ‘Moet nooit dat die waarheid in die pad van ’n goeie storie staan nie?’ Het jy nie soms bietjie aangedik nie?”

Gavin: “Nee. Op een klein uitsondering na, waar ’n karakter op ’n plaas nie werklik bestaan het nie, is elke toneel waar en deeglik nagevors. Onthou: Al die mense lewe nog en hulle sou nooit by die draaiboek of rolprent betrokke geraak het as ek met die waarheid gesmokkel het nie. Ek moes soms tydperke verkort. Hoe anders maak jy met ’n storie wat oor so ’n lang tydperk afspeel vol hofsake, verhore en die wag op bevindings? Ek moes dit noodwendig ekonomies verkort.”

Gavin groet vriendelik toe ons klaar is. Ek dink aan iets wat ’n joernalis oor hom by die Sundance-rolprentfees geskryf het toe sy gesê het dat Hood erken het: “Hierdie werk (die vermaaklikheidsbedryf) is gruwelik.” Maar Hood is skynbaar nie daardeur geskaad of aangeraak nie. Want vir hierdie vriendelike regisseur gaan dit steeds om die morele hart van die films wat hy maak.

En om ’n doodgewone mens te bly wat stories vanuit ’n buitengewone omgewing vertel.

Meer oor:  Gavin Hood  |  Tony Blair  |  Fluitjieblaser  |  Official Secrets  |  Rolprent
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.