Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
SA skrywer ook aangerand tydens VSA-onluste

“Ek kon nie net staan en toekyk hoe ’n vrou wat op die grond lê deur twee mans aangerand word nie.”

Só het Bradley Steyn, ’n Suid-Afrikaner wat as ’n veiligheidskonsultant en entrepreneur in Los Angeles werk, Maandag gesê nadat lede van die Los Angeles-polisie hom Sondag met ’n rubberkoeël in sy skrotum geskiet het.

Steyn, medeskrywer van die boek Undercover with Mandela’s Spies: The Story of the Boy Who Crossed the Square oor die Strijdomplein-slagting deur Barend Strydom in 1988, was Sondag deel van ’n groep mense wat aan ’n betoging deelgeneem. Hulle het hul misnoeë uitgespreek oor die dood van George Floyd ’n week gelede nadat Floyd deur die polisie in hegtenis geneem is in die deelstaat Minneapolis.

Bradley Steyn Maandag by sy huis in Los Angeles, Amerika waar hy aansterk nadat lede van die Los Angeles-polisie hom tydens ’n vreedsame protesoptog in sy skrotum geskiet het.

Hy het Maandag vanuit Amerika gesê hy is deur ’n polisielid geskiet nadat hy ’n vrou wat geval en deur twee polisielede gewapen met staalknuppels aangerand is, te hulp gesnel het.

“Ek kon nie net daar staan hoe hulle die vrou met die staalknuppels slaan nie. Dit is nie in my DNS nie,” het hy gesê.

Steyn het gesê die vrou het gestruikel en in ’n bedding plante geval. Die twee polisielede het die vrou toe begin slaan. Hy het na die polisielede gehardloop en kon hulle met ’n duikslag van die vrou afkry. Hy kon ook een polisielid se staalknuppel uit sy hande worstel.

Terwyl hy egter op die grond gelê het, het die tweede polisielid hom met sy staalknuppel geslaan.

Die ander een wat so vier of vyf voet weg van hom gestaan het, het hom toe in sy skrotum geskiet.

Steyn sê hy het besef dat hy daar moes wegkom. “Ek kon nie daar bly sodat hulle my in hegtenis neem nie.” Hy het gesê dat hy ondanks die pyn net begin hardloop het. Hy het naby ’n bank bebloed sy bewussyn verloor en is van daar na ’n nabye hospitaal geneem.

Hy het Maandag die Amerikaanse polisie as brutaal en wreed bestempel.

“Hulle is soveel wreder en brutaal, meer as wat mense besef, bloot omdat hulle weet dat hulle met hul vergrype gaan wegkom.”

Bradley Steyn Sondagaand in sy hospitaalbed kort voordat hy geopereer is.

Daar is volgens Steyn ook die element van ’n regse burgermag wat na die land se hoofstad opruk en daar net wag op die geringste teken vir hulle om ook tot die skending van gewone swart Amerikaners se regte by te dra.

“Ek het nog nooit aan ’n betoging deelgeneem nie. Het ek dit destyds in Suid-Afrika gedoen, kon my identiteit bekend geword het en sou my werk as stryder teen apartheid tot niet gegaan het.”

Steyn het gesê hy wou sy tienjarige dogter saam na die protes neem sodat sy kan sien dat ’n mens op ’n vreedsame manier jou stem kan laat hoor.

“Wat sou hulle (die polisie) nie met haar gedoen het nie?”

Hy het ook gelees van die mense wat in Suid-Afrika tydens die staat van inperking na bewering aan die hand van die polisie en weermag gesterf het.

“My vrees is net dat ons in dié tydperk in dieselfde rigting as Amerika kan beweeg waar die polisie en weermag wil wys dat hulle nie nonsens van enige mens gaan duld nie. Maar waar gaan dit ons laat? Met ’n polisiediens en weermag en hul menseregte-vergrype. ’n Polisiediens en weermag wat ons herinner aan die apartheidsera?”

Steyn het Sondag om 20:36 Suid-Afrikaanse tyd ’n foto van hom in die hospitaal op Facebook opgelaai. Suid-Afrika is nege uur voor Amerika.

Hy sê onder meer in sy inskrywing: “Polisiebrutaliteit in Amerika is buite beheer. Die polisie in Los Angeles was vandag wreed en onmenslik teenoor belastingbetalers wat vreedsaam gedemonstreer het.” Hy skryf dan verder dat hy nou geopereer gaan word met die hoop dat sy linkertestikel gered kan word nadat hy met ’n rubberkoeël in sy skrotum geskiet is.

In nog ’n Facebook-inskrywing wat omstreeks 23:00 Suid-Afrikaanse tyd opgelaai is, skryf Steyn dat hy uit die hospitaal ontslaan is nadat hy ’n noodoperasie moes ondergaan. “Ek sterk nou tuis aan. Baie dankie vir al die goeie wense.” Hy sê dat die rubberkoeël sy linkertestikel geskeur het.

Steyn het Maandag gesê dat sowat 40% van sy testikel beskadig is. Hy sterk tans by sy huis in Los Angeles aan.

Lees ook
Lees ook Barend Strydom en die ontwaking van ’n Valk waarin Steyn aan Murray La Vita vertel oor die onstuimige tyd as ’n dubbele agent wat vir sowel die veiligheidspolisie as die ANC gewerk het en hoe hy uiteindelik landuit moes vlug.


Meer oor:  George Floyd  |  Bradley Steyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.