Die Suid-Afrikaner Brian Steven Smith (48) word van ’n tweede moord op ’n vrou in Alaska aangekla.
Die Anchorage-polisie het sowat 12 uur gelede dié aankondiging gedoen op ’n mediakonferensie. Dit is ook op sy Facebook-blad gedeel.

Brian Steven Smith (48), voorheen van Queenstown in die Oos-Kaap, wat nou in Alaska woon, word nou vir twee moorde aangekla. Foto: AP Images
Smith, wat oorspronklik van Queenstown kom, is reeds sedert 8 Oktober vir die moord op Kathleen Henry (30) in aanhouding. Hy is op die Ted Stevens-lughawe in Anchorage in hegtenis geneem.
Die afgelope week is Smith ook weens die moord op Veronica Abouchuk (52) aangekla.
Justin Doll, polisiehoof van die Anchorage-polisie, het gesê Abouchuk is in Februarie deur haar familie as vermis aangemeld nadat hulle haar in Julie 2018 laas gesien het.
Volgens Doll het die polisie in April inligting ontvang van menslike oorskot wat naby ’n snelweg in Anchorage gevind is. Volgens ’n forensiese ondersoek, wat op 11 Oktober afgehandel is, is die oorskot dié van Abouchuk.
Smith staan nou tereg op verskeie aanklagte, onder meer twee vir moord, vir seksuele aanranding en dat hy met bewyse gepeuter het.

Veronica Abouchuk Foto: Facebook, Anchorage Police Department
Die staat het intussen aansoek gedoen dat Smith se borgtog tot $2 miljoen verhoog word.
Na bewering is die moorde op die twee Alaska-vroue ’n jaar uitmekaar gepleeg.
Die Anchorage-polisie het op die konferensie gesê hulle het in dié stadium geen rede om te glo dat ander mense buiten Smith by die moorde betrokke was nie. Hulle het bygevoeg daar is geen veiligheidsrisiko vir die publiek op die oomblik nie.
Op die vraag of Smith moontlik met verdere moorde verbind kan word, het Doll gesê hy kan nie kommentaar lewer nie, omdat die ondersoek teen hom nog voortduur.
Hy wou ook nie bespiegel of Smith dalk as ’n reeksmoordenaar beskou kan word nie.

Kathleen Henry Foto: Facebook, Kathleen Henry
Smith sal na verwagting weer Maandag in die hof wees.
Smith woon reeds sedert 2014 in Anchorage in die Amerikaanse deelstaat Alaska en is met ’n Amerikaner getroud.
Die beweerde misdaad het aan die lig gekom nadat ’n vrou glo ’n geheuekaart met beeldmateriaal van ’n moord in die Fairview-woonbuurt in Anchorage opgetel het.
Netwerk24 het vroeër berig dat Smith glo deur owerhede op die beeldmateriaal herken is weens sy betrokkenheid by ’n ander saak teen hom.
Inligting oor dié saak is nog nie bekend gemaak nie.
Beeldmateriaal op die geheuekaart toon blykbaar hoe ’n vrou vermoor word.