Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Saoedi-Arabië vereer gestorwe SA ontmyners

Die twee Suid-Afrikaners en hul drie kollegas wat verlede Sondag in Jemen in ’n ontploffing dood is, word dié week in Riaad, Saoedi-Arabië, vereer. Die families van Johan (H) den Haan (48) en Pieter Schoeman (43) word spesiaal deur die Koning Salman-stigting daarheen gevlieg vir twee seremonies.

Johan den Haan, een van twee Suid-Afrikaners wat laas Sondag in Jemen in ’n ontploffing gesterf het. Saam met hom is sy span plaaslike ontmyners.

Schoeman se familie woon in Modimolle in Limpopo en Den Haan se gesin in Bloemfontein.

Die ambassadeur van Jemen sal die dekorasies oorhandig vir die gevaarlike werk wat hulle gedoen het om die meer as ’n miljoen landmyne in dié land onskadelik te help stel.

Die stigting hou spesiaal vir hulle ’n parade ook, het Louis Rossouw, Den Haan se swaer, Saterdag gesê.

“My vrou, H se ouer suster, sal sy familie verteenwoordig. Die families sal ook hul stoflike oorskot saam terugbring Suid-Afrika toe. Die stigting betaal alle uitgawes vir die repatriasie, vlugte en die families. Ons sal hopelik volgende week dan ’n gedenkdiens in Bloemfontein vir H hou,” het Rossouw gesê.

Die Suid-Afrikaners en drie buitelandse kollegas is dood terwyl hulle ’n vrag landmyne vervoer het na waar dit vernietig sou word. Die myne was reeds onskadelik gestel. Iets het gedurende die vervoer skeefgeloop. Die enigste ooggetuie was bewusteloos ná die voorval nadat hy deur ’n stuk skrapnel getref is.

Die mans was kontrakteurs vir Dynasafe. Hoethi-rebelle plant jare reeds die myne oor Jemen heen. Dit eis die lewens en ledemate van burgerlikes.

Volgens Rossouw het H in 2004 in Afganistan sy arm in ’n Taliban-hinderlaag verloor. Hy is ook doof gelaat in sy regteroor. “Die Amerikaanse magte het hom dadelik na Duitsland geneem, waar hy lank in ’n militêre hospitaal was.”

Kort daarna is hy terug na die wêreld se gevaarlikste oorlogsones.

“H het sonder sy arm merendeels as terreinbestuurder en opleier gewerk. Een hand en al was hy die een wat altyd alles in die huis reggemaak het – ’n regte MacGyver. Hy het ’n hart van goud gehad.

“Toe hy in Angola gewerk het, het hy ’n dogtertjie teëgekom wat altwee bene, een arm en haar sig in ’n landmynontploffing verloor het. Sy was ’n skrander kind wat verder wou leer, maar sonder ’n braille-apparaat was dit onmoontlik. H het vir haar uit sy eie sak ’n apparaat uit Suid-Afrika laat kom – spesiaal aangepas vir blindes met net een hand.”

Meer oor:  Pieter Schoeman  |  Jemen  |  Saoedi-Arabië  |  Ontploffing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.