Die Amerikaanse visepresident Mike Pence en Kamala Harris, die Demokrate se visepresidentskandidaat, sal Woensdag tydens hul debat 3,7 m van mekaar staan en met ’n perspex-versperring geskei wees.
Die debat, die enigste tussen die visepresidentskandidate, sal in Salt Lake City plaasvind, ses dae nadat pres. Donald Trump aangekondig het dat hy positief vir die koronavirus getoets is.
Harris en Pence is die afgelope dae negatief getoets, terwyl die visepresident die naweek van die huis af gewerk het in plaas van in die Withuis. ’n Aantal personeellede van die Withuis en prominente Republikeine, waaronder drie senatore, is positief getoets vir die koronavirus.
Die Kommissie vir Presidensiële Debatte het gesê buiten vir bogenoemde maatreëls sal ’n beperkte getal gaste by die debat toegelaat word, wat almal getoets sal word en die dra van maskers sal verpligtend wees.

Kamala Harris praat tydens ’n inry-veldtog in Las Vegas. Foto: Reuters
By die eerste presidensiële debat verlede week tussen Trump en Joe Biden, die Demokratiese presidentskandidaat, het verskeie van Trump se familielede wat in die gehoor was nie maskers gedra nie.
In ’n verklaring het Pence se woordvoerder, Katie Miller, gesê “as senator Harris ’n fort om haarself wil hê, moet sy dit doen”.
In reaksie hierop het Sabrina Singh, Harris se woordvoerder, op Twitter geskryf dat in plaas daarvan dat Miller daarmee spot, moet haar baas ook daarvoor pleit.
Miller is in Mei positief vir die koronavirus getoets.
Market Watch berig die debat tussen Harris en Pence sal 90 minute duur, sonder enige advertensies, en sal in nege kategorieë van net minder as tien minute elk verdeel word. Anders as met die presidensiële debat is die onderwerpe nie vooraf bekend gemaak nie, maar dit sal na verwagting soortgelyk wees, met die fokus op onder meer die koronavirus, die ekonomie en raskwessies.

Mike Pence Foto: Reuters
Die debatleier is Susan Page, die burohoof van USA Today in Washington.
Intussen het Tim Murtaugh, woordvoerder van die Trump-veldtog, ook Maandag gesê die president is van plan om deel te neem aan die volgende presidensiële debat, wat vir 15 Oktober in Miami beplan word.
Trump het Maandag ná drie dae in die Walter Reed- militêre hospitaal na die Withuis teruggekeer.
Biden het Maandag gesê hy is bereid om aan volgende week se geskeduleerde debat deel te neem as gesondheidskenners sê dit sal veilig wees. – Reuters