Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Sensus: Demokrate wil weet hoe Trump vraag inglip

Die stryd in die Amerikaanse kongres oor ’n omstrede vraag wat pres. Donald Trump by volgende jaar se sensus-opname wil invoeg, raak al hoe feller.

Net ure nadat Trump sy privilegie gebruik het om te voorkom dat deurslaggewende dokumente oor die besluit om ’n vraag oor burgerskap by die sensusopname te voeg, bekend gemaak word, het ’n komitee van die huis van verteenwoordigers Woensdag aanbeveel dat twee lede van sy kabinet aan minagting van die kongres skuldig bevind word.

Die huis se toesig-en-hervormingskomitee se besluit baan die weg vir ’n moontlike stemming oor William Barr, minister van justisie, en Wilbur Ross, minister van handel, se optrede. Dit kom nadat hulle dagvaardings om voor die komitee te getuig geïgnoreer het.

Die komitee probeer al ’n maand om top-amptenare voor hom te daag om te getuig hoe die proses verloop het om die vraag oor burgerskap in die sensusopname te kry.

Dit is die tweede keer dat ’n komitee so ’n bevinding teen Barr maak.

Trump het vroeër die dag sy uitvoerende privilegie gebruik om die betrokke dokumente geheim te hou – ’n stap wat die komitee se dagvaardings aan sy ministers uitdaag.

Elijah Cummings, die Demokratiese voorsitter van die komitee, sê die president se besluit verander nie die feit dat Barr en Ross die komitee geminag het nie.

’n Woordvoerder van die departement van justisie sê die komitee “speel politieke speletjies” en dat die departement al maande probeer om die komitee se eise te akkommodeer.

Donald Trump, Amerika se president

Ross het dit ’n “leë truuk” genoem.

Trump, ’n Republikein, en die Demokrate wat die huis beheer, is al lank gewikkel in ’n politieke stryd oor die wetgewer se mag om die uitvoerende gesag verantwoordbaar te hou.

Trump en lede van sy binnekring het tot dusver amptelike versoeke en eise van die kongres om te kom getuig of dokumente tot sy beskikking te stel geïgnoreer.

Tradisioneel het die president van Amerika hom nog baie selde op sy uitvoerende privilegie beroep om inligting van ander takke van die regering te weerhou.

Hy het dit verlede maand ook gedoen om te voorkom dat ’n komitee van die huis die ongeredigeerde verslag van die spesiale ondersoeker Robert Mueller oor moontlike samewerking van die Russe in die presidensiële verkiesing in 2016 kan kry.

Die stryd of ’n vraag oor burgerskap in die sensusvorm bygevoeg moet word, is vir albei partye belangrik.

Trump het Woensdag vrae daaroor beantwoord en gesê: “As jy ’n sensusopname doen en jy word nie toegelaat om te praat oor of iemand ’n landsburger is of nie, klink dit nie vir my so goed nie. Dis totaal belaglik dat ons ’n sensus sal hê waarin ons dit nie vra nie.”

Demokrate op die toesig-en-hervormingskomitee sê die saak moet van nader beskou word. “Is dit regtig oor burgerskap? Nee. Dit is om die aantal mense van kleur wat in die sensus getel word te verminder. Dis presies waaroor dit gaan,” het die verteenwoordiger Rashida Tlaib gesê.

Die hooggeregshof sal na verwagting einde vandeesmaand uitspraak gee nadat die staat teen ’n bevinding van ’n ander hof geappelleer het wat die byvoeging van die vraag verbied het.

Die bevinding is gemaak nadat ’n groep deelstate en organisasies vir immigranteregte betoog het dat sulke vrae immigante en Latyns-Amerikaners sal bang maak om deel te neem aan die volkstelling. ’n Sensusopname word elke tien jaar gedoen.

Die twee groepe het die hof Woensdag gevra om sy uitspraak uit te stel sodat hulle nuwe bewyse kan voorlê oor wat hulle beweer die werklike motief van die regering met die vraag is.

Kritici sê die Republikeine wil hê daar moet doelbewus minder mense getel word as wat daar is in gebiede wat neig om die Demokratiese Party te ondersteun sodat die Republikeine meer verteenwoordigers in die huis kan kry.

Die sensus word gebruik om setels in die huis aan te wys en te bepaal hoe miljarde dollar van die regering se geld versprei sal word.

Ross het aan die komitee gesê hy het die vraag bygesit net omdat die departement van justisie daarvoor gevra het.

Demokrate op die komitee sê hulle het dokumente wat toon dat Ross “met ’n geheime veldtog begin het” om die vraag op die sensusvorm te kry maande voordat hy amptelik deur die departement van justisie gevra is om dit te doen.

Alexandria Ocasio-Cortez, nog ’n verteenwoordiger in die huis, het oor die sensus gesê: “Dit bepaal wie hier sit (in die kongres). Dit bepaal wie die mag in die Verenigde State van Amerika het.”

Meer oor:  Donald Trump  |  Demokrate
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.