Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Seun (4) uit ouers se sorg gehaal omdat hulle chemo weier

’n Vierjarige seuntjie in Amerika is uit die sorg van sy ouers gehaal omdat hulle weier dat hy chemoterapie vir sy leukemie kry en hom self dokter met onder meer dagga-olie.

Noah McAdams is in die sorg van sy ouma en oupa aan sy moeder se kant geplaas. Sy ouers, Taylor Bland-Ball en Joshua McAdams, kan strafregtelik aangekla word dat hulle sy lewe in gevaar gestel het.

Twee dae nadat Noah in die deelstaat Florida met chemoterapie begin het, het sy ma die toedieningsnaald uit sy arm getrek en die ouers het met Noah verdwyn. Hulle is ’n week later in Kentucky opgespoor, berig CBS News.

Noah is vroeg vanjaar met akute limfoblastiese leukemie gediagnoseer.

Ondanks die feit dat dié siekte in 98% van die gevalle ná behandeling in remissie gaan, wou die ouers Noah dokter met dagga-olie, suurstofterapie, ’n spesiale dieet en CBD-olie – ’n gewilde dagga-ekstrak wat sommer oor die toonbank te koop is.

Die ouerpaar glo die chemoterapie het slegte newe-effekte wat hul kind in die toekoms sal benadeel.

Noah sal in die sorg van sy grootouers bly, hoewel die staat hom in die toekoms kan terugplaas in die sorg van sy ouers, het regter Thomas Palermo, wat die saak in die distrikshof in Hillsborough aangehoor het, gesê.

Palermo het dit duidelik gestel dit is nie ’n strafmaatreël nie, maar om Noah te beskerm, berig ABC News.

Bland-Ball het tydens ’n onderhoud met die program Good Morning America gesê Noah het erge gemoedsteurnisse gehad wat hom gewelddadig of emosioneel gemaak het, en hy het dadelik ná die eerste behandeling sy hare begin verloor.

Volgens haar het sy geweet hoe om die toedieningsmasjien te ontkoppel omdat sy ’n program op YouTube gesien het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.