Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Sikloon Idai: Duisende het cholera, malaria

Die dodetal van die verwoestende sikloon Idai wat Mosambiek, Malawi en Zimbabwe byna ’n maand gelede getref het, het Vrydag tot 1 005 gestyg.

602 mense is in Mosambiek dood, 344 mense in Zimbabwe en 59 in Malawi, het Al Jazeera Vrydag berig.

’n Lid van die HSI-span verpleeg ’n kalfie wat beseer is toe die sikloon Idai Beira getref het. Foto: Humane Society International

Op 27 Maart het cholera in die Mosambiekse hawestad Beira uitgebreek. Die siekte is al by 4 072 mense gediagnoseer en het minstens sewe lewens geëis.

Sowat 30 000 mense is reeds teen cholera ingeënt.

7 000 malariagevalle is ook aangeteken.

Henny de Vries, Nederlandse ambassadeur in Mosambiek, het getwiet muskietnette en medisyne is dringend nodig om mense teen malaria te beskerm.

Die Verenigde Nasies het Idai vroeër bestempel as die dodelikste sikloon wat die Suidelike Halfrond tot nog toe getref het.

257 mense in Zimbabwe word steeds vermis, het Monica Mutsvanga, minister van inligting, aan Al Jazeera gesê.

Nou staar hongersnood miljoene oorlewendes in die gesig.

Die Wêreldvoedselprogram (WFP) het Dinsdag in ’n verklaring gesê minstens 3 miljoen mense in Zimbabwe, Mosambiek en Malawi is sonder kos.

Die Amerikaanse tak van die WFP het vandeesweek $31 miljoen vir voedselhulp geskenk. Dit sal aanvanklik genoeg wees om kos te kry by die helfte van dié wat nou ernstige voedselnood ervaar.

Daar is ook nog mense wat in verafgeleë gebiede vasgekeer is.

Humane Society Interna­tional (HIS) het intussen ook ’n span helpers na die gebied gestuur wat die ergste deur Idai getref is om diere in nood te help.

’n Beseerde bokkie word gehelp. Foto: Humane Society International

Hul span gee nou kos aan diere wat oënskynlik van hul eienaars vervreem is, sê HSI in ’n verklaring.

Tot dusver het meer as 200 diere wat in die sikloon beseer is, hulp gekry. Dit sluit honde, katte en ’n hele klomp beeste, varke en bokke in.

HSI het ook spesiaal ’n helikopter uitgestuur om diere te help wat op plekke is wat van die buitewêreld afgesny is.

Diere wat gehelp word, kry vitamiene en word met antibiotika ingespuit om te keer dat hulle siek word. Die diere, waarvan sommige ontwater is, kry ook onmiddellik skoon water.

Baie gemeenskappe het “onbeskryflike verliese gely”, het Kelly Donithan van HSI se dierereddingspan Vrydag gesê.

In baie gemeenskappe is die mense en hul diere dood. In een gemeenskap buite Beira het net 16 beeste van ’n trop van 108 die sikloon oorleef.

Die span kom ook op klein hondjies af waarvan die ma in die sikloon dood is.

Donithan sê die HSI-span werk byna 24 uur per dag om diere se lyding te probeer verlig.

“Oor Malawi en Mosambiek heen is diere vir mense baie belangrik. In die meeste gevalle vorm diere die middelpunt van gemeenskappe. Deur lewensreddende hulp te gee, probeer HSI gemeenskappe help op die lang pad na herstel.”

HSI het komberse, dierekos en dieremedisyne nodig.

Meer oor:  Mosambiek  |  Zimbabwe  |  Malawi  |  Honger  |  Cholera  |  Malaria  |  Sikloon Idai  |  Sikloon
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.