Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Sirië na VN oor Trump sê Golan behoort aan Israel

Sirië het ’n beroep op die Verenigde Nasies (VN) se veiligheidsraad gedoen om ’n dringende vergadering te hou oor Amerika se besluit om die Golanhoogland as Israelse grondgebied te erken.

Die veiligheidsraad het nie dadelik ’n vergadering belê nie en lede sê die Siriese versoek sal eers bespreek word.

Pres. Donald Trump van Amerika het Maandag ’n proklamasie onderteken waarin Amerika Israel se anneksasie van die strategiese gebied erken. Dit is teen die VN se resolusie wat die Golan beskou as ’n Siriese gebied wat deur Israel beset word.

Israel het die plato in die oorlog van 1969 tussen die Arabiere en Israel beset. Israel het die gebied in 1981 amptelik geannekseer. Die optrede is destyds eenparig deur die VN se veiligheidsraad afgekeur.

China en Rusland het hulle ook teen Amerika se optrede uitgespreek, asook Suid-Afrika en Indonesië, wat sterk ondersteuners van die Palestyne is.

In ’n brief wat joernaliste van die nuusagentskap AFP gesien het, vra Sirië die veiligheidsraad se voorsitter om die dringende vergadering te belê om die “situasie in die besette Siriese Golan” te bespreek, asook “die blatante oortreding van die betrokke resolusie deur ’n permanente lidland”.

Die veiligheidsraad vergader Woensdag om onder meer die mandaat van die VN se vredesmag op die grens van Israel en Sirië te bespreek.

Hassan Nasrallah, hoof van die Libanese Sjiïtiese beweging Hezbollah en ’n bondgenoot van Sirië, het gesê daar is net een opsie wat vir Sirië oorbly om sy grondgebied terug te vat sodat die Palestyne hul regte kan uitoefen, en dit is “verset, verset, verset”.

Hy beskryf Trump se optrede as ’n “beslissende keerpunt in die geskiedenis van die konflik tussen Arabiere en Israeli’s”.

“Die besluit is ’n uitklophou vir wat genoem word die vredesproses in die streek, wat gebou is op die beginsel van grond in ruil vir vrede,” het Nasrallah gesê.

Vyf Europese lande met sitting in die veiligheidsraad het reeds hul kommer uitgespreek dat Trump se optrede wye gevolge in die Midde-Ooste kan hê.

Brittanje en Frankryk, albei nabye bondgenote van Amerika, het saam met België, Duitsland en Pole verklaar dat Europa nie sy mening verander het dat Israel die Golanhoogland beset nie.

China en Rusland het hulle ook teen Amerika se optrede uitgespreek, asook Suid-Afrika en Indonesië, wat sterk ondersteuners van die Palestyne is.

Meer oor:  Verenigde Nasies (Vn)  |  Pres. Donald Trump  |  Sirië  |  Israel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.