Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
‘Situasie in Mosambiek versleg daagliks’
’n Vrou en haar kind in ’n vlugtelingkamp in Cabo Delgado. Die situasie in Mosambiek is besig om daagliks te versleg en in ’n grootskaalse humanitêre krisis te ontaard. Foto: Reuters

’n Suid-Afrikaanse helikoptervlieënier wat vandeesweek gehelp het om landgenote en ander buitelanders wat in ’n hotel in Palma, Mosambiek, te bevry, sê die situasie is besig om daagliks te versleg en in ’n grootskaalse humanitêre krisis te ontaard.

“Groot getalle mense het sonder kos of water die bosse ingevlug met net die klere aan hul lyf. Daar is ook nog onduidelikheid oor hoeveel Suid-Afrikaners dood is of vermis word. Oral is lyke in sakke,” sê die vlieënier.

Die presiese dodetal in die geweldpleging, wat al sedert verlede Woensdag in Palma, ’n kusdorp, woed, is nie bekend nie. Duisende mense het na die provinsiale hoofstad, Pemba, of oor die grens na Tanzanië gevlug.

Volgens mediaberigte en getuies lê lyke, waarvan sommiges onthoof is, in die strate en op die strande van Palma. Telefoonlyne werk nie – wat dit moeilik maak om betroubare inligting te bekom.

Die aanvalle deur Ansar al-Sunna-militante, wat deur Isis gesteun word, het begin kort nadat die Franse oliemaatskappy Total en die Mosambiekse regering aangekondig het dat Total se vloeibaregas-projek weer in werking gestel sal word. In die lig van die aanvalle is die herinwerkingstelling uitgestel.

“Dit is eintlik baie benard op grondvlak. Dit is chaos, want daar is steeds geen werklike beheer nie en daar sal vir ’n geruime tyd nie beheer wees nie,” het Lionel Dyck, direkteur van die Dyck Advisory Group (DAG), wie se helikoptervlieëniers lugsteun aan die Mosambiekse weermag gee, aan Associated Press gesê.

Dit lyk of die Mosambiekse regering nie die wil het om die rebelle teen te staan nie

Volgens Dyck is die strate van Palma verlate behalwe vir sporadiese geweervuur van rebelle, wat glo beheer het oor die deel van die kusdorp waar regeringskantore en banke geleë is.

“As ons oor die gebied vlieg, soek ons na mense wat in die bosse wegkruip. Ons gebruik helikopters om hulle in veiligheid te bring,” het Dyck gesê.

“Dit lyk of die Mosambiekse regering nie die wil het om die rebelle teen te staan nie,” sê die vlieënier met wie Netwerk24 in verbinding is.

“DAG se helikopters vlieg Vrydag die laaste keer en sal teen Dinsdag nie meer in die gebied wees nie. Dit sal die Mosambiekse soldate op die grond blootstel,” sê hy.

Reuters berig (HYPERLINK) dat daar volgens die Verenigde Nasies ongeveer 110 000 mense in die distrik woon waar Palma geleë is. Dit sluit ongeveer 43 600 mense in wat ook daar gaan skuiling soek het ná aanvalle deur rebelle elders in die provinsie van Cabo Delgado.

“Talle het na Palma gevlug om veilig te wees, maar hulle moes weer vlug,” het Jonathan Whittall, direkteur van ontleding van die internasionale hulpgroep Medecins Sans Frontieres, gesê. - Reuters


Meer oor:  Terreur  |  Palma  |  Terreur In Mosambiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.