Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Skietstilstand tussen Israel en Palestyne

’n Onbevestigde skietstilstand tussen die Palestyne en Israel in die Gasa-gebied het Maandag voor sonop in werking getree. Daarmee is een van die dodelikste gevegte sedert die oorlog in 2014 tot ’n einde gebring.

Hoewel geeneen van die twee kante ’n aankondiging daaroor gedoen het nie, het Israel en die Palestynse Hamas-organisasie albei gevegte gestaak, berig The Guardian.

Inwoners bekyk die skade aan 'n gebou in Gasa na 'n lugaanval vroeër Saterdag. Foto: AP

Israel het die beperkings op mense wat in die suide naby die grens met Gasa woon, opgehef en paaie en skole heropen.

Hamas se radiodiens, Al-Aqsa, het berig daar is ’n skietstilstand.

Palestynse medici sê die ongevalle aan hul kant sluit twee swanger vroue en twee babas in. Volgens Israel is twee van dié vier dood weens ’n Palestynse projektiel wat foutiewelik afgegaan het.

Minstens 24 Palestyne en vier Israeli’s is in die drie dae dood, berig News24.

Sondag was daar nog hewige gevegte en het Israel die Gasa-strook uit die lug en van die see af aangeval in opdrag van Benjamin Netanyahu, premier, terwyl Hamas vuurpyle na die suide van Israel geskiet het.

’n Hamas-bevelvoerder is Sondag dood in wat Israel beskryf het as ’n aanval op ’n spesifieke teiken.

Hamad al-Khodori (34) is daarvan verdink dat hy “groot bedrae geld van Iran na gewapende faksies in Gaza” gebring het.

In Ashkelon, Israel, is ’n 58-jarige man dood toe hy deur skrapnel van ’n Palestynse vuurpyl getref is. Twee ander mans is dood toe ’n fabriek getref is waar hulle gewerk het. Hulle is kritiek beseer en later dood.

Dit lyk asof die skietstilstand deur Egipte as tussenganger namens die Verenigde Nasies (VN) beding is.

Israel het die gebou waarin die Turkse staatsondersteunde nuusagentskap bedryf is, in ’n bomaanval verwoes.

Pres. Tayyip Erdogan van Turkye het dit as ’n “daad van terrorisme” beskryf, maar Israel het gesê die gebou is vernietig omdat dit deur Hamas gebruik is.

Teen die tyd dat die skietstilstand ingetree het, het Israelse vliegtuie en tenks sowat 350 skote na Gasa geskiet en die Palestyne sowat 700 vuurpyle en mortiere na Israel.

Meer oor:  Palestina  |  Gasa  |  Israel  |  Wêreld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.