Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Skip-chaos: Talle SA’ners steeds in Italië gestrand
Die MS Costa Luminosa. 48 Suid-Afrikaners op die skip moet Sondag in Italië afklim. Foto: Verskaf

Sowat 20 Suid-Afrikaners op die plesierskip die MS Costa Pacifica, wat tans in die Italiaanse hawestad Civitavecchia vasgemeer is, kon teen Woensdagmiddag steeds nie van die skip afklim nie en het geen idee wanneer hulle na Suid-Afrika sal kan terugkeer nie.

Netwerk24 het vroeër berig dat 160 van die 168 Suid-Afrikaners wat op dié skip was, Dinsdag na Suid-Afrika teruggekeer het.

Nie genoeg plek op vliegtuig

Debbi Windell (48), wat op die skip agtergebly het, het Woensdag gesê sy en die res van haar mede-Suid-Afrikaners wat nog op die skip is, kon nie op die vlug huis toe klim nie.

Daar was vermoedelik nie genoeg plek op die vliegtuig nie.

Die groep wat op die skip agtergebly het, is nou bekommerd oor hoe die staat van inperking in Suid-Afrika, wat Donderdag van middernag af vir 21 dae van krag is, hul reisreëlings gaan beïnvloed.

“Ons is bekommerd dat hulle ons in ’n hotel of op die lughawe gaan los, omdat daar geen vlugte is nie,” sê Windell.

“Van die mense is in trane weens die spanning en onsekerheid.”

148 huis toe

Die 148 Suid-Afrikaanse passasiers wat Dinsdag terug huis toe is, het vanaf Rome na Doha, Katar, gevlieg nadat hulle in isolasie met ’n bus na die lughawe gebring is.

Italië is ’n hoërisiko-land wat die Covid-19-uitbreking betref en teen Woensdag het meer as 6 000 mense in dié land reeds aan die virussiekte gesterf.

Costa Cruises het Woensdag aan Netwerk24 gesê vlugreëlings vir hul passasiers word volgens die beskikbare vlugte getref.

“Ongeag die moeilike omstandighede weens reisbeperkings wat deur verskeie lande in Europa en die res van die wêreld ingestel is, het Costa self vlugte vir die meeste van die passasiers gereël.”

Volgens die skeepsredery was daar Woensdagoggend nog 504 passasiers aan boord van die Costa Pacifica, van wie 209 teen Woensdagaand sou afklim.

Laastes klim Donderdag af

Die laaste 295 passasiers sal Donderdag afklim.

Niemand aan boord van die Costa Pacifica is positief vir Covid-19 getoets nie.

* Intussen is nog 48 Suid-Afrikaners wat aan boord van die MS Costa Luminosa was, sedert Maandag in ’n hotel in Rome in kwarantyn.

Costa sê dié besluit, wat deur die Italiaanse gesondheidsowerhede geneem is, is in ooreenstemming met die Italiaanse regering en die Wêreldgesondheidsorganisasie se riglyne.

“184 passasiers van verskillende nasionaliteite het in Savona van die Costa Luminosa afgeklim en is as voorsorgmaatreël vir 14 dae in ’n hotel in Rome in kwarantyn geplaas.

“Wanneer die kwarantyntydperk verby is, sal Costa vlugte reël sodat hulle veilig kan terugkeer huis toe.”

Volgens die skeepsredery doen hy alles in sy vermoë om die passasiers by te staan en is mediese personeel en sielkundiges beskikbaar om die lede van die groep se toestand te monitor.

“Kamerdiens met ’n verskeidenheid opsies word drie keer per dag verskaf, en komplementêre dienste sluit in WiFi, ’n wasgoeddiens, peuselhappies en drinkgoed.”

Vier mense aan boord van die Costa Luminosa is positief vir Covid-19 getoets nadat hulle onderskeidelik op 29 Februarie en 8 Maart van die skip afgeklim het. Een is in die hospitaal dood.

Volgens die Suid-Afrikaanse passasiers se reisagentskap, Imagine Cruising, het Costa hulle ingelig dat die redery self die verantwoordelikheid oorgeneem het om passasiers te repatrieer.

“Costa het ons geadviseer dat hulle die repatriasie saam met die Italiaanse owerhede en die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) organiseer,” sê Sandy Alvos, kliëntediensbestuurder van Imagine Cruising.

Dirco het nie op verskeie navrae van Netwerk24 gereageer nie.

Meer oor:  Italië  |  Suid-Afrikaners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.