Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Skokverslag oor SA leeubedryf in Brittanje gepubliseer

In ’n jaar lange ondersoek na die “siek bedryf van die jag van geblikte leeus” in Suid-Afrika is bevind dat tot 12 000 leeus per jaar hier in gevangenskap geteel word sodat veral ryk Britte en Amerikaners hulle kan skiet, of sodat hul beendere na die Verre-Ooste uitgevoer kan word.

Miles Wakefield by die leeu Simba wat die naweek glo gered is voordat hy gejag sou word. Foto: Mail on Sunday

Die buitelandse ondersoek kom nadat die gruwels in die Suid-Afrikaanse leeubedryf, waarin duisende leeus vir geblikte leeujag en die Oosterse mark vir leeubeendere geteel word, deur Netwerk24 oopgekrap is.

Netwerk24 het verlede jaar berig dat 54 leeus in twee dae in só ’n “slagpale” in Glen naby Bloemfontein doodgemaak is.

Lord Ashcroft, ’n Britse sakeman, filantroop en rolprentmaker, was by die ondersoek betrokke. Dit het gelei tot die “dramatiese redding” Vrydagnag van die leeu Simba (11) wat in gevangenskap geteel is.

Dit blyk uit die ondersoek dat skatryk trofeejagters van Brittanje en Amerika duisende ponde of dollars betaal om leeus soos Simba in Suid-Afrika te kom skiet.

Die Britse koerant Mail on Sunday het die naweek berig oor dié skokkende bedryf wat in Suid-Afrika floreer.

“Baie van die leeus word met groot vragmotors aangery na teelplase met slagpale waar hulle vir die beenmark doodgemaak word. Van die leeus word onder haglike omstandighede op die leeuplase in klein kratte aangehou totdat hulle die doodskoot deur die kop kry en afgeslag word.”

Ashcroft het die naweek die Britse regering daarvan beskuldig het dat hy medepligtig is aan dié “siek” bedryf in Suid-Afrika omdat hy versuim om ’n verbod op die invoer van leeuvelle en ander leeuprodukte te plaas.

Die hele verhaal oor Simba het aan die lig gekom toe ’n ondersoeker hom voorgedoen het as ’n ryk Amerikaanse kliënt wat ’n leeu in Suid-Afrika wil kom jag. Simba is toe nie gejag nie, maar verdoof en van die plaas in Noordwes af verwyder.

Dit het gebeur nadat ’n ondersoeker Patrick de Beer van Mugaba Safaris genader het. Daarna het De Beer ’n brosjure gestuur aan die ondersoeker met foto’s van 16 leeumannetjies wat elk ’n prysetiket op die foto – wat wissel van $13 000 tot $26 000 – het.

Die prys om Simba te skiet, was $23 000. ’n Ooreenkoms vir die jag is daarna aangegaan.

Die ondersoeker het daarop aangedring om Simba te sien voordat hy hom gaan skiet. De Beer het glo geweier om die leeus, wat in gevangenskap aangehou word, vooraf te wys. Hy het aangebied om net foto’s en video’s van Simba beskikbaar te stel.

Ashcroft sê op YouTube hy het na Suid-Afrika gekom om die wrede teelprogramme met leeus eerstehands te ondersoek.

So het die Britse koerant Mail on Sunday die naweek oor Suid-Afrika se "siek"" leeubedryf berig.

“Ek het Suid-Afrika jare as toeris besoek en foto’s van leeus op my kamera vasgevang. Wat nou aan die gang is, is onaanvaarbaar en behoort dadelik stopgesit te word.”

De Beer het by navraag ’n lang verslag uitgereik oor die voorval, waarin hy beweer dat Peter Carr, groepredakteur van die mediamaatskappy Future Publishing in Brittanje, hom genader het om ’n leeujag vir ’n Amerikaanse vriend te reël. Hy ken Carr omdat hy al advertensies by hom geplaas het. De Beer het die jagter Freddie Scheepers van Noordwes voorgestel om die Amerikaanse jagter te vergesel.

Carr het sy vriend onder valse voorwendsels na Suid-Afrika laat kom as sou hy (De Beer) en Scheepers ’n “groen jagtog” aanbied.

Volgens De Beer is die hele artikel oor die jagtog saamgestel met onverwante berigte oor leeubeendere wat na die Ooste uitgevoer word en ’n berig oor ’n onverwante leeuplaas waar die diere in haglike omstandighede aangehou word.

Hy sê die hele verhaal oor hoe Simba dramaties gered is kort voordat hy gejag sou word, is ’n blatante leuen suiwer vir sensasie.

Nadat die jagter vir die leeu betaal het, was dit sy leeu en hy kon doen met die dier wat hy wou.

De Beer sê sedert die artikel in die Mail on Sunday verskyn het, het hy en Scheepers al verskeie dreigemente ontvang.

Meer oor:  Brittanje  |  Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.